FOTO’S: Super Sean veg nog hard
Dit was 'n oomblik van pure opwinding en verligting toe skanderings op 23 Augustus bevestig dat Super Sean se sarkoom heeltemal vernietig is.
MBOMBELA -“Ons is so opgewonde, maar ons weet dit is nog ‘n lang pad wat ons moet stap,” het ma Amor Adlem gesê.
Laevelder het voorheen berig dat Sean minder as ‘n maand nadat hy sy 12de verjaarsdag op 10 April gevier het, met Ewing se sarkoom gediagnoseer is.
LEES OOK: FOTO’S EN VIDEOS: Sarkoom kry dapper Sean nie onder nie
Dit is ‘n aggressiewe tipe beenkanker wat, onder andere, intense pyn veroorsaak. Dit het ook veroorsaak dat die T7-beentjie in Sean se rugstring verkrummel, en dat hy nie meer kon loop nie.

Sedert sy diagnose het hy ses siklusse chemo ontvang wat die sarkoom vernietig het. Soos Amor terreg wys, is dit nog ‘n lang pad totdat Sean kankervry is.
Op 11 September word hy by die UCT-hospitaal, in die Grootte Schuur-hospitaal, geopereer.

“Tydens die operasie gaan die dokter die been herstel waarop die gewas gegroei het, en ook Sean se ruggraat versterk.”
Dié operasie word deur wêreldberoemde chirurg, prof. Robert Dunn, uitgevoer.
“Ek is bietjie bang, maar ek weet die Here is by my,”
het ‘n baie hees Sean vertel.

“Sy keel is vandag baie seer na die chemo en hy is baie moeg,” verduidelik Amor.
LEES OOK: Sean Adlem is terug by die huis na stryd met kanker
Na afloop van die operasie sal Sean steeds chemo moet ontvang. “Hy gaan vir ongeveer vier maande nog agt siklusse van chemo ontvang en behoort teen volgende Februarie sy behandeling te voltooi het.”
Die Adlems is oortuig dat Sean ten volle sal genees.
“Ek is seker hy sal weer CrossFit kan doen. Hy sal seker nooit weer kan rugby speel nie, maar ek dink ook nie hy wil nie. Dit was nooit vir hom so lekker soos die CrossFit nie.” Amor voeg by dat Sean opgewonde is om daarna weer terug te gaan skool toe.

“Hy kan basies een week ‘n maand sy maats en familie sien. Die res van die tyd is hy of in die hospitaal of in isolasie.”
Om hom te help veg teen die kanker, het die graadses-groep van Laerskool Nelspruit vir hom handgeskrewe briewe gegee, en kom kuier sy vriende so gereeld soos wat hulle kan.
Maar waarna sien Sean die meeste uit na sy behandeling? “Pizza for days,” kom die antwoord dadelik so tussen die pyn deur.
