
MBOMBELA – ‘n Hardekoolboom is ‘n indrukwekkende halfblad-wisselende boom met pragtige takke wat skuiling en koelte bied. Dit groei in goeie soet weiveld.

Vir 94 jaar het oom Hendrik Strydom gegroei en hy kon skuilte en koelte bied aan wie dit nodig gehad het. Sy weiveld was soet en mooi. Sy tasbare liefde en respek vir sy medemens was legendaries.

Sy verbondenheid met Hoërskool Nelspruit het oor dekades gestrek. As ouer het hy in die skool se beheerliggaam diens gedoen en was hy onder andere verantwoordelik vir die aanstelling van Corn Booyens.
Sedert 1998 was hy die sekretaris van Nellie-Klub 1000, ‘n amp wat hy met die uiterste bekwaamheid en toewyding gevul het. In hierdie hoedanigheid het hy daagliks met mense op alle vlakke in die Laeveld skouers geskuur. Waar hy beweeg het, het hy die respek en bewondering van sy medemens geniet.

Oom Hendrik was ‘n ware Nellie wat Saterdag na Saterdag langs die sportveld gesien is waar hy die Nellies in sege of nederlaag ondersteun en bemoedig het. Hy sou altyd ‘n geselsie met die opponente aanknoop en sy leedwese met die nederlaag betuig. Op 90-jarige ouderdom besluit oom Hendrik om halt te roep en af te tree.
Hy was uit die oog, maar egter nooit uit die Nellies se hart nie. Een van die skoolbussies is “Oom Hendrik” gedoop en so reis hy steeds Saterdag vir Saterdag saam met die skool die land vol.

Vir NHS was hy met sy kenmerkende blymoedigheid en optimisme, ‘n anker van standvastigheid in ‘n ewig-veranderende wêreld. Sy onwrikbare geloof in sy Skepper, onverbloemde liefde vir sy medemens, en liefdevolle lojaliteit teenoor sy familie, vriende en ander hartsmense, was vir die bevoorregtes met wie oom Hendrik se aardse pad gekruis het, ‘n onverbeterlike voorbeeld en inspirasie.
LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se bestuurskomitee aangewys
Soos sy geliefde Blou Bulle wat toe nie vanjaar die eindstryd kon haal nie, is sy 2019 ook op lentedag beëindig. Ons harte is seer, maar ons weet dat oom Hendrik se aanbreek van die ewige lente vir hom ‘n baie spesiale plek in Sy koninkryk beteken. Rus sag, oom Hendrik, ons salueer u met harte vol liefde, eerbied en net die grootste agting.
Ons groet in sy eie woorde:”Mooi loop, my ou maat.”
LEES OOK: PHOTOS: Interhigh 2019 – Hoërskool Nelspruit
