Laerskool Laeveld vier fees vir lente
Die dag het hope pret vir die leerders gebied, maar dit het ook 'n ernstige kant gehad.

MBOMBELA – Laerskool Laeveld het verlede Vrydag ‘n hoogtepunt op die skool se jaarlikse kalender gevier. Die Vrydag was ‘n ongewone een omdat die skool ook Lentedag gevier het.
Die dag het hope pret vir die leerders gebied, maar dit het ook ‘n ernstige kant gehad. Bykomend met die gees van viering en die plesierige atmosfeer wat op die dag by die skool geheers het, is die Lentedag-vieringe ook een van die grootste fondsinsamelingsprojekte wat elke jaar aangepak word.

LEES OOK: Ontmoet: Marius van Rensburg
Die skool se woordvoerder, Sonja Holtzhausen, het verduidelik: “Dit sluit die jaarlikse kaskardag in waar leerders elk ‘n borgvorm ontvang en fondse insamel. Die leerders neem deel in klasverband aan die kaskarresies en heerlike boeresportaktiwiteite wat wissel van sakresies, driebeenresies, asook lepel-en-gholfbalresies.
“Om te verseker dat daar genoeg versnaperinge vir die ywerige deelnemers is, bied die gr. 7-leerders tydens hul entrepreneursdag heerlike produkte te koop aan by hul onderskeie stalletjies.”

LEES OOK: #NelspruitEisteddfod40: FOTO’S: Met instrumentale afdeling kom fees tot ‘n einde
Die jong entrepreneurs het ‘n verskeidenheid lekkernye te koop gehad, en die kompetisie tussen die verskillende klasse was wel om te sien watter stalle die meeste verkoop en die grootste wins toon. Die deelnemers het tydens die kaskarresies in hul kostuums om die baan gejaag, terwyl die bestuurders bevelle skree dat hulle vinniger moes stoot om eerste by die wenpaal te kom.

‘n Feestlike gees het oor die dag geheers en menigte ouers het hul steun getoon deur hul aanwesigheid by die skool.
“Beslis een van dié lekkerste dae in die skooljaar,” het Holtzhausen afgesluit.
