Arisa Janse Van Rensburg gesels oor die daaglikse stryd wat vroue stry
Mans nader dikwels vrou met onvanpaste opmerkings en Laevelder verslaggeefster, Arisa Janse Van Rensburg het eerstehandse ervaring hiervan.

“Dis net ‘n grappie man.”
“Ag, ek het dit nou nie eintlik so bedoel nie.”
“Hoekom is jy so sensitief? Is dit nou weer daai tyd van die maand?”
Hierdie is maar net ‘n paar van die goed wat ek al uit mans se monde gehoor het. Wat dit vir my en soveel van my vrouekollegas erger maak, is dat dit die tipe goed is wat ons hoor wanneer ons besig is om ons werk te doen. ‘n Week gelede het ek by ‘n plaaslike organisasie gaan kuier.
LEES OOK: Pumas are now proudly sponsored by Phakisa Holdings

Een van die mans het my in ‘n “grapperige” manier gewaarsku teen sy kollega wat, volgens hom, met enigeen in die bed in sal spring. Toe ek my frustrasies hieroor uitspreek en vra hoe hulle durf so praat, in ag genome die stand van sake in die land, haak die kollega ewe af en sê: “’n Man het seker kliphard op jou hart gek*k.”
In dieselfde week stuur ‘n kollega professionele boodskappe aan iemand oor wie sy ‘n storie doen. Toe, uit die bloute, stuur hy vir haar ‘n eiervrug-emoji. Regtig? ‘n Maand gelede woon ek ‘n praatjie by wat, ironies genoeg, deur ‘n organisasie gereël is wat staan teenoor geweld teen vroue en kinders.
LEES OOK: Ruby the rhino dog starts work in SA
By die geleentheid roep ‘n groep mans my, en die een haak af en sê: “Hey, I want to know you. I want to know your body.”
Die heel ergste is dat ons dit heel dikwels af lag of ignoreer, want ons probeer regtig net ons werk doen. Maar moenie dink ons vergeet nie. Want nee, dit is nie ‘n grappie nie, jy het dit so bedoel en ek mag onsteld wees daaroor, ongeag watter tyd van die maand dit is.
