Local newsNews

Herinneringe in die Onderberg van ‘n leeftyd

So groet ons baie mense hier in die Onderberg, maar ek weet ons sal julle weer iewers raakloop.

Danie en Nelia Olwage is onlangs, na meer as 26 jaar, weg uit die Onderberg om hulle in Mbombela te vestig. Die dag toe hulle goed gelaai is en die egpaar finaal hier uit is, het Nelia die volgende op Facebook geskryf:

 

“Vandag is so ‘n regte bittersweet-dag vir ons! Nadat ons in Februarie ons aftreehuis in Nelspruit gekoop het, was die idee om dit uit te verhuur vir so twee jaar tot Danie aftree. Wel, dinge het baie vinnig verander nadat hy een van baie was wat vroeër in April moes uittree. Ons het toe besluit om ons Malalane-huis te verkoop, iets wat nog nie gebeur het nie – en self in ons nuwe Nelspruit-huis te gaan woon. Ons verhuur nou ons Malalane-huis, so vandag is ons D-day. Ons trek.”

1993: Ons eerste huis in Komatipoort van TSB tot dit nog woes en leeg was.

Mal perd opgesaal en ‘n ou spoorweghuis gekoop en opgeknap. Dit het mooi uitgekom, maarsal nooit weer so iets aanpak nie!

Malelane se huis 2019: Lekker blyhuis. ons het die afgelope 14 jaar hier gebly voor ons in Julie 2019 na Mbombela verhuis het

“Hier staan in elke vertrek ‘n klomp bokse wat ons self gepak het. Die honde hol rond en kan nie verstaan wat besig is om te gebeur nie. Danie het met die oulike idee gekom om nadat ‘n kas uitgepak is, ‘n pienk kaartjie buite aan die deurknop te hang. Op hierdie stadium lyk dit soos ‘n kersboom in elke kamer.

 

 

“Ek het net besef hoeveel oortollige goed ‘n mens so oor die jare bymekaar maak. Hier is nog die kinders se skoolboeke, verjaarsdagkaartjies en ‘n magdom ander goed, en nog wat. Hier is klere wat ek nooit eens geweet het ek het nie en ander wat ek nooit weer aan die lyf sal kry nie. Danie gooi ook uit. Sy garage is nou spotless. Die nuwe huurders se meubels staan al vir ‘n week daar en wag dat ons moet trek.

Met ons 35 jarige huweliksherdenking het ons besluit om weer onself in ons oorspronklike trouklere in te wurg en dit was groot pret.

“Trek is werk! Ons slaap soos dooies of glad nie, en staan styf op elke dag, maar alles is nou klaar. So groet ons baie mense hier in die Onderberg, maar ek weet ons sal julle weer iewers raakloop. Vir nou is dit net ‘n dankie vir baie mooi herinneringe van die afgelope 26 jaar wat ons met ons saamneem. Ons sien ook uit om weer nuwe vriende te maak in Nelspruit. Mooi bly en laat dit goed gaan.”

Hierdie was so ‘n mooi groetnisboodskap dat Corridor Gazette Nelia gevra het om meer te skryf oor haar verblyf hier; die kom en die gaan, omdat dit ook die storie van baie ander ou Onderbergers is wat hier aangekom het en na jare weer moet gaan:

“Dit was 26 jaar en drie maande gelede toe ons Laeveld toe gekom het. Danie is soos ‘n klein seuntjie vlak voor Kersfees of soos ‘n resiesperd voor ‘n wedren wat net wil hardloop van opgewondenheid! Hy is deel van die span wat die nuwe Komati- suikermeulaanleg sou kom bou.”

LEES OOK: Stilsit in die kerk vir ‘n splinternuwe fiets

Vir my was dit ‘n minder aangename vooruitsig. Ek het getjank, hard en lelik en lank. Danie belowe dat ons net vyf jaar sal weg wees.

Wel, ons het goed ingeskakel in die gemeenskap en deelgeneem aan dinge. Ons het mense leer ken en goeie vriende gemaak. In die begin was die nuwe TSB-huise se strate nog grondpad sonder radio, televisie of telefone. Gelukkig het alles gou verander en was ons 12 jaar lank deel van die personeeldorp – van Danie se slegs vyf jaar het daar niks gekom nie!
Ons verruil ons mooi nuwe TSB-huis – die een waarvan die kombuis ‘n keer met ‘n baksessie heeltemal uitgebrand het – vir ‘n ou spoorweghuis wat ons mooi regmaak en lekker in bly.”

LEES OOK: Sangers reël ‘n behoorlike boere-makietie

“Later begin altwee van ons werk by die meule by Malelane en ons trek soontoe. Daardie was ‘n groot blyhuis en waar ons vir 14 jaar woon. Weer ontmoet ons soveel uiteenlopende mense en word hulle deel van ons.

Daarom sê ‘n mens ook maar moeilik koebaai vir ‘n leeftyd se mense. Aan die ander kant doen ons nou self wat ons altyd vir die kinders gesê het om te doen – gaan kyk tog net wat ook aangaan anderkant die berg. Daarom is die kinders opgewonde dat ons nou nader gaan wees.

Hierdie is dan totsiens aan almal wat ons nie persoonlik kon groet nie, dankie vir mooi herinneringe wat ons met ons saamneem en mag julle almal uitermatige seën beleef!

Groetnis, Danie en Nelia Olwage.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button