Eendjies, eendjies, 400 in ‘n ry…
Met so baie eendjies in die wedloop, moes verskeie uitdunrondes gehou word voor die wenner bepaal is.

Regte Laeveldse eendeweer was verlede Saterdag aan die orde van die dag toe byna 400 klein plastiekeendjies sonder veel seremonie in die Sabierivier by Sabie River Camp gedompel is om vir ‘n hoopvolle “eienaar” die gesogte eerste prys van R10 000 in die sak te bring.
Die geleentheid was die fondsinsamelings-projek van Laerskool Witrivier en die “eienaars” moes elkeen R250 opdok om hul eendjies aan dié swemmery te laat deelneem.
Nadat skoolhoof Frannie van der Riet self kniediep in die water, die teken gegee het, is die eendjies losgelaat en kon toeskouers langs die rivier opgewonde dophou hoedat hulle óf in die wal vasswem, óf die stroomversnellings net reg vang om ‘n voorsprong bo hul maats te bewerkstellig.
Wynand Kok, Alex Jonker en Graeme Nel het gesorg dat dié wat die pad, oftewel die water, byster raak, reggehelp word.
By die eindstreep het Elmarie Hansen, Jaco Booyens en Marianne Oosthuizen gewag en seker gemaak dat elke eend, baie deeglik onder sy pensie genommer, uit die water gehaal en afgemerk word.
Met so baie eendjies in die wedloop, moes verskeie uitdunrondes gehou word voor die wenner bepaal is.
Uiteindelik kon Ruline Pieters die wenprys van R10 000 opeis, met ene K. Lottering se eendjie tweede en Michelle Retief s’n derde.
Hulle het onderskeidelik R5 000 en R2 500 in die sak kon steek.





