Local newsNews

‘n Tuiste vir afvlerkmense by nuwe Soli Deo Gloria sorgsentrum

Hulle sorg vir kinders tot bejaardes, gestremdes en haweloses, enigiemand wat deur traumatiese verwonding geraak is.

Die Soli Deo Gloria-sorgsentrum wat reeds jare lank in Lydenburg diens lewer, is nou ook in Hazyview teenwoordig.

Dit is ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat sonder staatshulp of ondersteuning funksioneer, en dus totaal afhanklik van die publiek vir donasies is.

Volgens Gerda Venter is alles wat hulle doen op ‘n Christelike grondslag gebaseer en Woord-gefundeerd. Dit is ‘n plek van versorging, hoop en lewe vir, soos sy dit stel, Jesus se afvlerkkinders, van jonk tot oud. “Mense wat by ‘n kruispad gekom het nadat hulle in hul lewens verkeerde keuses gemaak en besluite geneem het, wat nie meer weet hoe nou verder nie, kan hier kom aanklop,” sê sy. “Ons glo dat almal nóg ‘n kans verdien, aangesien ons as mense nie oor mekaar durf oordeel nie.”

Hulle sorg vir kinders tot bejaardes, gestremdes en haweloses, enigiemand wat deur traumatiese verwonding geraak is.

Sy sê dat dit ook nie sommer net nóg ‘n plakkerskamp of nedersetting is nie, aangesien hulle meer as net met kos en klere in materiële behoeftes voorsien. “Ons bring lewe en herstel gebaseer op God se Woord. Ons gee kos vir die liggaam, siel en gees,” glo sy. Reëls by die sentrum is streng, maar regverdig, met die leuse om goed te doen terwyl hulle sake doen.

Elke Maandag word vergadering gehou waar pligte, klagtes, verskille en komplimente bespreek word, en beradingsessies mag volg. Dinsdae en Vrydae word kliniese sielkundige hulp verskaf, Woensdae is daar tyd vir groepterapie en op Woensdagaande vergader die selgroepe. Donderdae kry vaardighede soos naaldwerk, houtwerk of kunswerk aandag in kort werkswinkels. Donderdagaande vergader groepe soos Alkoholiste Anoniem, waar enigiemand met ‘n verslawing kan aansluit, ook uit die publiek. Sondae is almal vry om dienste volgens eie kerkverband by te woon.

Terwyl werkskepping een van die hoofdoele van die sentrum is, glo die Venters dat alles met passie, roeping, wedersydse respek, integriteit, lojaliteit, deursettingsvermoë en volharding in Jesus moet gebeur. So ‘n sentrum het natuurlik altyd behoefte aan materiële ondersteuning, toerusting en lewensmiddele. Enigiemand wat graag hiermee wil help, kan Gerda Venter by 072-402-6595 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button