Local newsNews

Die perfekte Portugese pao

'n Warm pao elke oggend, vroeg gekoop, vars van die plaaslike padaria, is so deel van 'n kuier in Mosambiek soos garnale braai, 2M-bier en Tipo Tinto met rooi koeldrank. 

Dit is ‘n plesier om te sien hoe werk Vicki Veiga met die deeg. Hoe sy dit meng en afknie tot die perfekte tekstuur – en hoe sy dit geniet om daarmee te werk en dit te vorm tot die perfekte Portugese pao.

Ook nie net in Mosambiek nie, selfs in Angola, waar ek eenkeer op reis was kort na die burgeroorlog, word hierdie eiesoortige tradisionele broodrolletjies sommer so in uitgeholde miershope gebak – maar oral met dieselfde unieke smaak – en ook bekend as pap do seco.

Die meeste mense het al begin glo ‘n mens kan nie die perfekte poa buite die grense van Mosambiek bak nie. Daar is al bespiegel of dit die soort meel is, of miskien die soort gis. Iemand het al gesê die suurdeeg is van gegiste aartappel, maar die geheim het geslote gebly.

LEES OOK: It is raining on Paul Kruger’s birthday!

Dit is, totdat ‘n mens met die baasbakster Veiga kontak maak.

Sy bak haar pao volgens ‘n resep van haar skoonma wat dié uit koloniale Mosambiek saamgebring het. Daar is baie maniere en resepte, sê Vicki.

Hierdie resep van haar skoonma het sy self al bietje aangepas vir ‘n beter en veral sagter tekstuur – anders as die standaard staats-pao van hedendaagse Mosambiek waaraan ons gewoond is.

Haar pao voer ‘n mens weg na Mosambiek. Die smaak is in die kol, die tekstuur bietjie sagter. Koningskos.

LEES OOK: Kokkedoor-reis op ‘n einde vir Pieter, maar Anmar kan titel wen

Sy gebruik Eureka Mills se spesiale, growwe, steengemaalde meel. So ‘n baksel behels ‘n verstommende hoeveelheid moeite.

Veiga doen alles met die hand. Die meng en die afknie. ‘n Mens sien hoe die deeg sy vorm kry en later nie meer plak nie. Blink van die olie, en dan die tydjie om te rys. Gelukkig is Malalane – en so ook Mosambiek – warm plekke, en die deeg rys, wat moontlik deel van die geheim is.

Veiga sê daardie enkele oggende wat die hitte haar in die steek laat, trek sy sommer die kar in die son en los die deeg binne om behoorlik te rys.

Sy vorm elke rolletjie afsonderlik met die hand – lank of rond, en met die kepie bo, gemaak met die sykant van haar hand. Dan moet dit weer so ‘n halfuur of wat staan, voordat die pan oond toe. Vyf-en-twintig minute teen 180 grade, tot goudbruin.

Veiga maak ook “jalapeño candy” – ‘n soeterige sous van gekerfde jalapeños. Dié moet die oningewyde baie spaarsamig gebruik, want na die geurige soet kom ‘n ding wat brand.

‘n Mens kan die broodjies so vars laat vries en onbepaald bêre vir die dag as jy jou gaste dié kant van die grens met egte vars pao wil verras. Haal dan uit hoeveel jy wil voorsit.

Ontvries so ‘n halfuur, besprinkel met water sommer so onder die kraan, en druk in ‘n warm oond vir niks langer as agt minute nie – dalk eerder so ses. Veiga bak slegs op bestelling, Maandae, Woensdae en Vrydae.

Skakel haar by 079-278-0988 en eet saam.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Lande Willemse

Landé Willemse is a multiple-award-winning journalist and editor with more than two decades of experience across print, digital, and broadcast media. Her work, which includes photography, spans investigative reporting, sport, agriculture, tourism, political and community news, with bylines across several respected South African publications.
Back to top button