Boks vir ‘n Boervrou
Boodskappe het soos 'n veldbrand die afgelope week op sosiale media versprei rakende hulp vir boervroue in droogte-geteisterde gebiede.

Soms kyk ‘n mens jou vas aan die stof op die grond, die dooie diere en die boer wat sonder moed is, maar wat van die vrou wat alles agter geslote deure aanmekaar hou?
Boks vir ‘n Boervrou is ‘n inisiatief wat op Facebook posgevat het, en vinnig gegroei het.
Dit behels dat ‘n boks opgemaak word met items vir vroue. Dit moet dan in koerantpapier toegedraai word en by Die Plaashuis of Secpro in Burgersfort afgelaai word. Daar sal die boks met ‘n mooi lint vasgebind word om na ‘n boervrou in nood gestuur te word.
LEES OOK: Waterval CVO-skool spog met ‘n splinternuwe saal
Mense word ook aangemoedig om meer as een boks op te maak indien hulle kan.
Enige van die volgende kan in jou boks bygevoeg word: eetgoed, wasmiddels, koffie, kondensmelk, toiletware, tydskrifte, lekkernye, ‘n dagboekie of ‘n mooi serp; of die inhoud van die boks kan deur jouself saamgestel word. Hopelik sal daar ook genoeg bokse wees vir plaaswerkers se vroue, andersins kan ‘n boks ook vir hulle gepak word.
LEES OOK: Rooikatte Rugby
In Lydenburg kan die bokse by die Steelburger/Lydenburg Nuus se kantore in Viljoenstraat afgelaai word.
Gaan besoek gerus die Boks vir ‘n Boervrou Facebook-blad vir alternatiewe informasie en getuienisse.
