Maak reg vir Maroela Makiti
Die jaarlikse Maroela Makiti wat die naweek weer gehou word, het oor baie jare 'n belangrike gebeurtenis in die Laeveld geword. Hoeveel weet nog dat dit die Nelspruit-gemeente van die Hervormers se tradisionele kerkbasaar was wat in so 'n tradisionele feestelikheid omskep is?
Dit was ook verlede jaar 75 jaar sedert ‘n Nederduitsch Hervormde Gemeente op 18 Maart 1944 met 116 lidmate hier onder die voorsitterskap van ds. Simon Vermooten, gestig is.
Die grense van die gemeente was aanvanlik vasgestel vanaf Komatipoort tot by die Krokodilpoort, dan met ‘n reguit lyn tot by Rosehaugh en vandaar met ‘n reguit lyn oor die berge na Transvaal Citrus Farms (later bekend as Solomon’s Kloof Farm) in Schoemanskloof.
Van hier was die grens getrek na die Godwanrivier waar Ngodwana vandag geleë is, en dan al met die Nelsberge langs tot by die grens met eSwatini.
Die gemeentes Lydenburg (1927), Witrivier (wat as Plaston bekend was – 1930), Sabie (1935) en Waterval Boven (1941) het toe reeds bestaan.
LEES OOK: Kindermoordenaar se paroolaansoek word goedgekeur
Die Komatipoort-gemeente het op 2 Maart 1952 en die Barberton-gemeente in 1965 as selfstandige gemeentes van Nelspruit afgestig. Die Malelane-gemeente het in 1980 van Komatipoort afgestig.
In 1947 word ds. DB Snyman van Dullstroom die eerste predikant van die gemeente, wat Dullstroom, Belfast en Nelspruit in samestelling bedien het.

Ds. JPB Viljoen het in Mei 1952 ‘n beroep aangeneem en was die eerste voltydse predikant wat op Nelspruit gewoon het. Volgens ‘n berig in Die Laevelder van 20 Februarie 1976 oor die 25-jarige ampsjubileum van Viljoen, vertel hy
dat vier kerkdienste op een Sondag, 24 nagmaalbedienings in een jaar, en 60 00 km per jaar moes afgelê word om al sy lidmate te bedien. Sy eerste standplaas was die gemeente op Witrivier wat daardie tyd nog die hele Laeveld van Barberton tot Komatipoort, Nelspruit, Witrivier, Sabie en Kampersrus moes bedien.
Ds. PS van Staden het in 1967 die eerste predikant van Nelspriuit geword, wat nie ander kombinasieverpligtinge gehad het nie, en was predikant in die gemeente totdat hy in 1982 ‘n beroep na Vryburg-gemeente aangeneem het.
Ds. Kalman Papp en (tans) prof. Yolanda Dreyer het in 1982 die eerste predikante in die gemeente geword wat weens die styging in lidmaattal nie meer deur een predikant bedien kon word nie.

Sedert hulle vertrek in 1989 het ‘n hele aantal predikante in hierdie meer standplaas-gemeente gedien: Hulle was ds. Jaco Dreyer (1989-1993), ds. Johan Ayres (1990-1992), ds. Peet Swanepoel (1994-1997), ds. Willem Oliver (1992-1999), ds. Erna Oliver (1993-1999), ds. Pierre Jacobs (2002-2007-deeltyds) en ds. Hennie Engelbrecht (2015-2017-deeltyds).
Die huidige predikante is ds. Gert Macdonald (1996 – deelsorg, 1998 – voltyds) en ds. Eksteen Botes (2000). Die eerste kerkgebou was wat vandag die MOTH-saal in Russellstraat is.
Daarna was die gebou in Van Niekerkstraat agter die Absa-gebou, waar die kantore van Smuts en Du Toit, die prokureurs, vandag staan. Die huidige gebou is in Belladonnastraat in West Acres.
LEES OOK: Skole is in goeie gees
