Onderrig in die 21ste eeu
'n Plaaslike onnie is nommer een in die land vir uitnemendheid in verbeterde inligtings- en kommunikasietegnologie.

Louise Fullard, departementshoof van tale by Hoërskool Bergvlam, is verlede naweek aangewys as die voorste onderwyser in die kategorie vir uitnemendheid in tegnologieverbeterde onderrig en leer. Dit was tydens die Nasionale Onderwystoekennings wat in Gauteng aangebied is.
“Die skole lyk nog steeds dieselfde as wat dit 100 jaar terug gelyk het, maar kinders leer nie meer so nie,” sê Fullard.
LEES OOK: Luiperdwelpies was onwettig aangehou
Sy wys deur tegnologie hoe leerders maklik, doeltreffend en met pret onderrig kan word.
Sy sê dat die toekenning haar sal aanmoedig om vol te hou met wat sy doen. Dit het harde werk geverg en sy het haar beste gegee, sê sy.
“Dit het begin by navorsing, wat ‘n katalisator was vir my om meer te leer. Jy moet in voeling bly met mense om aan te hou groei,” sê Fullard.
Sy vertel dat bemagtiging haar passie is en dat sy ander onderwysers ook al kon oortuig om op dié manier klas te gee.
In die klasse gebruik leerders selfone, klank, video en toepassings om die werk te doen.
Die hele opset is in ooreenstemming met die van ‘n universiteit, waar die take op ‘n webwerf geplaas word sodat leerders vooruit kan beplan en take kan voltooi.
Mondelinge aanbiedings word op video opgeneem en aan Fullard gestuur. Gedigte en leesboeke word deur ‘n toepassing bemeester.
“Ek het ‘n passie vir onderrig deur middel van verskeie platforms. Leerders moet ‘n wye spektrum hê om van te kies wanneer hulle leer of take doen.”
Sy noem dat onderwysers ‘n meer openhartige benadering moet toepas met betrekking tot die manier waarop hulle klas gee.
“Ek het nie ‘n kind wat klas misloop nie, they don’t care what you know until they know that you care,” sê Fullard.
“Ek sê vir hulle dat hulle enigiets na skool kan doen, want daar is potensiaal in elke liewe leerder.”

LEES OOK: Inwoners waaksaam teen inbrake
Buiten haar passie om die metode van leer te verbeter, studeer sy nog deeltyds en is betrokke by sport en kultuur.
Sy is gelukkig om ‘n gesin te hê wat haar voortdurend ondersteun.
Mpumalanga het wenners gehad in vier van die toekennings se 10 kategorieë.
Die drie ander wenners was Catarina Engelbrecht van Platorand Primêr vir uitnemendheid in spesiale behoefte onderrig, Marcia Mthombeni van Bosbokrand vir uitnemendheid in natuurwetenskaponderrig, en Jacobus Johannes du Plessis van Rensburg van Ligbron Akademie van Tegnologie wat die toekenning vir lewenslange prestasies
ontvang het.







