ONTMOET: Basie Ueckermann
Na 50 jaar as afrigter vir interlaerbyeenkomste gaan Basie Uekermann nog steeds voort.

Almal ken hom as ‘n afrigter op die atletiekbane en rugbyvelde.
Uekermann was op skool nooit ‘n goeie sportman nie, maar dit het verander terwyl hy liggaamlike opvoeding studeer het.
Hy het vir 38 jaar lank wiskunde by Hoërskool Ermelo gegee, en daarna by Laerskool Bergland vir 24 jaar.
LEES OOK: Innibos storie-krôl skop af
Uekermann het na 44 jaar van skoolhou afgetree. Hy het begin sport afrig by Nelspruit Primary na Albert van Putten, afrigter by die skool, hom genader het na sy aftrede.
Hy het verskeie sportsoorte deur die jare afgerig, insluitende atletiek, rugby, swem en krieket.
Hy het vir baie jare met spanne regoor Suid-Afrika en selfs Namibië getoer.
“As ek R1 vir elke kilometer wat ek vir sport gery het kon kry, sou ek ‘n miljoenêr wees,” sê hy.
Hy vertel dat hy en drie ander ouers in die laat 1970s Transvaal Platteland Krieket begin het, waar hulle in verskillende streke gespeel het.
Dit het al so gegroei dat dit nou nasionaal plaasvind.Hy was deel van die laerskool- Cravenweek, waar hy nege keer ‘n afrigter was.
Hy vertel dat hy oor die jare leerders soos die Malan-broers en Rudi Vleis Visagie, wat vir die Springbokke gespeel het, afgerig het.
“Ek is dankbaar dat hulle iets bereik het, maar ‘n mens hoor net in watter hoërskool hierdie leerders was, jy hoor nooit van hulle laerskoolsportloopbane en -afrigters nie. Maar dit is op laerskool waar die grondslag gelê word in sport, soos byvoorbeeld hoe om die krieketkolf vas te hou. My doelwit is om meer en beter geleenthede vir leerders te skep,” sê Uekermann.
Hy vertel dat hy dankbaar is dat sy kinders en kleinkinders ook goed gevaar het in sport en dat dit hom baie trots maak.
KYK OOK: Albert Frost wys sy talente op die kitaar
“My vrou het my ook deur al die jare ondersteun.”
Sy planne vir die toekoms is om nie vinnig op te hou nie. “As ek nou moet gaan sit, sal ek omtiep,” grap hy.
“As ek nou terugkyk op my lewe, is al wat ek kan sê ‘wow’,” eindig Uekermann.
