‘n Stukkie geluk vir Nelspruit DBV
Die Nelspruit DBV het die afgelope tyd rede gehad om fees te vier nadat hulle goeie nuus aangaande hul muurprojek ontvang het.

Die nuwe projek vorder goed nadat nog 1 000 stene deur Ashlee Blom, haar jonger broer Dylan, en niggie Mia geskenk is. Die kinders het hul pa’s, en die eienaars van DJB0-dienste, Garith en Dwyne Blom oorreed om bakstene te skenk.
Nog 480 is deur Spanslab sowel as Andile Ngobeni en Hazel Nkambule, leerlinge van St. Peter’s School, geborg.
Spanslab – wat hierdie soort bakstene maak – het gesê hulle sal dit aan die DBV se skenkers teen R6 elk verkoop, in plaas van die standaardprys van R8.
LEES OOK: Innibos storie-krôl skop af
Kwotasies vir die bakstene kan by Estelle op 082-323-5884 gekry word.
Die geluk het nie daar gestop nie. Die Roodepoort DBV het ‘n ekstra bakkie gehad en het dit aan die plaaslike tak, wat dit broodnodig gehad het, geskenk. Die bakkie is uitgerus met 18 verskillende groottes hondehokke agterop.
Lize Pienaar, voorsitter van Nelspruit DBV, sê dat sy al 19 honde op ‘n slag moes vervoer.
“Dit maak die vervoerwerk van diere net soveel makliker,” sê sy.
Woolworths i’langa Mall het ook besluit om die honde te bederf deur speelgoed te skenk.



