Local newsNews

Bekende koskenners beoordeel bobaasbaksters

Op Melktertdag, 29 Februarie ding deelnemers uit dié kontrei mee om met die gesogte titel van melktertkoning of -koningin weg te stap. Hierdie liplekkergeleentheid vind plaas by Canary Walk Mall and Office Park, en wenners sal aangewys word vir die beste tradisionele melktert en beste melktert met 'n kinkel.

Maar dis nie al nie, want die publiek kan ook daarna uitsien om ‘n paar bekende koskenners tydens die verrigtinge raak te loop.

Kokkedoor se Kosma, Errieda du Toit (inhoudsvervaardiger: kos van Kokkedoor, Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie), en een van haar kuikens uit seisoen drie van die kykNET-werklikheidsreeks, Pieter Malan, gaan saam met ‘n gesogte paneel dié kompetisie beoordeel.

Du Toit se kookboek, SAAM – ‘n Eeu van Suid-Afrikaanse Gemeenskapsresepte, sal ook die aand na die kompetisie by Greenway Woods Resort in Witrivier bekendgestel word. Die funksie begin om 18:30 vir 19:00 en toegang is R180 per persoon.

Beide haar eerste boek, Huiskok Glanskok, sowel as haar 10de boek, SAAM het Gourmand World Cookbook Awards gewen, en die laasgenoemde in die kategorie kulinêre erfenis.

SAAM is huiskoskampioen, Du Toit, se uitsonderlike kookboek oor kos wat ons die meeste geniet en die kultuur waarmee resepte in gemeenskapsresepteboekies gedeel word. Sy verdiep haar in 150 boeke wat oor 100 jaar uitgegee is en vorm ‘n spesiale band met die resepte op die omkrulblaaie vol kosvlekke uit dié versamelings.

LEES OOK: Kry nou jou Innibos-weekkaartjies teen afslag

SAAM is ‘n genotvolle huldeblyk aan die genre wat in ‘n moderne trant en effe tong-in-die-kies-inspirasie in ons kosherinneringe vind.

“SAAM is ‘n vrolike viering van gemeenskaps-kookboekies en die kultuur om resepte met mekaar te deel. Dit eer die wonderlike gees van samewerking tussen vroue wat vir hul gemeenskap iets goeds wou doen en hul resepte gebruik het vir fondsinsameling – of dit was om ‘n kerksaal te bou of ‘n skoolbussie aan te skaf.

“Ja, daai einste ‘kerkboekies’ wat ons ma’s en oumas nader getrek het vir die lekkerste huiskos en betroubare resepte,” vertel Du Toit.

“SAAM plaas die kollig op ons verknogtheid aan hierdie beskeie boekies met hul geel gebleikte omkrulblaaie vol kosvlekke, tipies met krammetjies gebind of ‘n spiraalrug, en netjies getikte resepte… Sonder kosfoto’s, buiten dalk ‘n lynskets hier en daar.

“Ek het uiteindelik 150 boekies nagegaan, die oudste uit 1918 en die jongste 2018. Hulle is van kerke se sustersverenigings en vrouediens-verenigings, huisvrouligas, vrouelandbou-verenings- en unies, skole en sinagoges, rolbalklubs, ladies van die Rotariërs en Lions, organisasies vir gestremdes en belangegroepe soos kwilters, kalligrafiste en roosliefhebbers.”

LEES OOK: Robbies wys hulle staal by Interhoër

Malan, ‘n gewilde omroeper by Radio Laeveld 100.5FM en die aanbieder van die aanlynkookprogram, die PappaChef Show – sal dan ook die geleentheid kry om ‘n onderhoud met sy kosheldin te voer.

“Dit is vir my ‘n groot voorreg om met een van my grootste rolmodelle te kan gesels oor haar kookboek,” verklap hy. “Ek sien ook uit om die lekker inskrywings vir die kompetisie te proe.”

Malan het in 2019 in die top drie van Kokkedoor geëindig en het sedertdien nog nie teruggekyk nie. Deesdae is hy ‘n gesogte koskenner by funksies en feeste, en werk hy ook hard aan sy eie kookboek wat hy later vanjaar wil vrystel.

Sy program, die PappaChef Show, geniet tans die ondersteuning van radiostasies regoor die land en gaan ook binnekort op Trots Afrikaans se #TrotsTV begin uitsaai.

“Die Here is goed vir my en ek is baie bevoorreg om dit te kan doen waarvoor ek lief is,” sê hy.

LEES OOK: Belangrike landbou-Inligtingsvergaderings vind die week plaas

Diegene wat nog wil inskryf vir die Melktertdagkompetisie, kan dit doen deur om vir Karen by 013-754-1155, info@fgkcap.co.za of marketing@lowvelder.co.za te kontak.

Kaartjies vir die boekbekendstelling kan by Crystal bespreek word. Vir meer inligting, e-pos reser@greenway.co.za of skakel 013-751-1094.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button