Eienaar van Coastal Hire oorlede na fratsongeluk tydens 4×4-pretrit
Na net meer as 'n twee maande lange stryd om aan die lewe te bly, is Hennie Meiring (52), die eienaar van Coastal Hire, oorlede.

Hy het op 18 Januarie tydens ‘n 4×4-pretrit ernstige beserings tydens ‘n fratsongeluk opgedoen.
Hennie, sy vrou Hanlie (54) en die egpaar se twee seuns, Dirk (22) en Danru (25), het almal by Coastal Hire gewerk.
Hy was in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid behandel.
Volgens Hanlie het hy onder meer sy ribbes gebreek en ernstige rug- en inwendige beserings opgedoen tydens die ongeluk.
“Veral die beserings aan sy buik was baie ernstig,” sê Hanlie.
LEES OOK: Bekende koskenners beoordeel bobaasbaksters
‘n Nabye vriend van die Meiring-gesin, (wie versoek het om nie genoem te word nie), sê Hennie se gesondheid het in die 34 dae wat hy in die intensiewesorgeenheid was, met tye baie wipplank gery.
“Soos ons vir Hennie geken het, was hy egter ‘n vegter van formaat en het bitter hard baklei om dit te oorwin. Die afgelope twee weke het sy toestand egter drasties verswak. “Hy was ‘n diep gelowige man en het goed na sy familie omgesien. Dit was ‘n groot skok vir almal toe hy oorlede is.”
Hanlie sê sy het in ‘n stadium Hennie se Bybel na die hospitaal geneem om vir hom daaruit te lees. Sy het ook ‘n foto aan hulle vriendekring uitgestuur van sy dagboek se voorblad.
Op die leeromslag staan: “It’s kind of fun to do the impossible”.
‘n Gedenkdiens word vandag (Vrydag) om 11:00 by die AGS Communio in die stad gehou. Daar is na afloop van die diens ‘n privaat funksie vir die familie.
LEES OOK: Kry nou jou Innibos-weekkaartjies teen afslag
