Bergvlam se top dirigent deel sy interhoër-ervaring
By vanjaar se interhoër het die dirigente hul stemme hees geskree, en ses van hulle het uitgestaan. Hierdie is die ervaring van een van die leerders wat op die dag 'n toekenning gewen het as die beste dirigent vir sy skool.

Dirigente moet gerespekteer word. Nes die atlete, staan hulle die hele dag in die son. Stemme is hees geskree, lywe is rooi gebrand, voete is seer gespring en gedans, maar daar is geen keer aan hulle nie. Hulle hou aan tot die einde, en gee hulle beste tot dit klaar is.
Ses dirigente is aangekondig op die dag as beste dirigent vir hul skool:
• Nelspruit Hoërskool – Anesli van Wyk
• Rob Ferreira Hoërskool – Asi Mdluli
• Penryn – Lihle Mbuli
• Lowveld High School – Nhlakanipho Nkabinde
• Lydenburg Hoërskool – Ronen Burger
• Hoërskool Bergvlam – Zandré van Niekerk
Zandré van Niekerk droom al vandat hy in gr. 7 was om ‘n interhöer-dirigent te wees wanneer die tyd aanbreek. By vanjaar se 71ste Mediclinic Nelspruit Interhoër het sy droom waar geword. Zandré het die voorreg gehad om as een van Hoërskool Bergvlam se dirigente op te tree.
Dit het nie sommer net so maklik in sy skoot geval nie. Om in aanmerking te kom vir ‘n dirigent, is dit ‘n vereiste dat jy in die geesspan moet wees. Hy vertel dat hy sy stem elke jaar hees geskree het op die paviljoen saam met sy mede-Vlammies.

Zandré was in 2019 gekies is as die mees entoesiastiese gr. 11-geesspanlid. Dit het hom net meer vasbeslote gemaak om as dirigent gekies te word. Aan die einde van 2019 is hy na verskeie oudisies gekies as deel van die dirigentespan vir 2020.
LEES OOK: Helpende Hand skep hoop vir 2020
Zandré en sy span het vir ses weke lank geoefen en het selfs hul lywe op die spel gesit; talle kere geval, talle kere laat val en talle kere opgestaan en weer probeer. Hulle wou bewys dat hulle die beste is.
Zandré vertel dat Ané Bekker, ‘n onderwyser, hulle ten alle tye aangemoedig en uitgedaag het. Sy het hulle ondersteun en geleer dat wat hulle insit, hulle wel weer sal uitkry.

Zandré sê: “Ons opkoms het met drie reusesweephoue begin, en dit was asof my liggaam net in ‘n ander dimensie inbeweeg het! Bewegings wat voorheen soos ‘n berg voor my gelê het, het net natuurlik gebeur. Voor ek my oë kon uitvee, was dit klaar. Interhoër 2020 was klaar. Ses weke se intense voorbereiding, klaar. My hart het in my keel gaan sit met die laaste aankondiging van die dag. ‘Die beste dirigent van Hoërskool Bergvlam gaan aan Zandré van Niekerk!’ Ek kon amper nie my ore glo nie! Na jare se hoop en droom, was dit uiteindelik my beurt!”
LEES OOK: Generaal Renoster voer oorlog teen renosterstropery in Krugerwildtuin






