Local newsNews

Gemeenskap voel slaggatbesaaide paaie neem Mbombela oor

Daar is 'n bekende spottery in die land wat sê op party paaie moet 'n mens baie versigtig bestuur om seker te maak jy ry die teer raak op slaggatbesaaide paaie.

Kyk ‘n mens na die aantal klagtes van inwoners van die stad en die groter munisipale gebied, wil dit voorkom asof die Mbombela-owerheid nie juis hard werk om sy onbenydenswaardige reputasie ongeskonde te maak nie.

Of dit nou ‘n slaggat is wat naby Hoërskool Nelspruit pryk, of die reuse gat in Aurorastraat by die motorhawe by Steiltes is, en of dit nou Meidlingerstraat wat na die DBV lei wat lyk asof dit met pokke besaai is, kom dit voor asof die owerheid die stryd verloor.

Selfs die ou gedeelte van die N4 wat naby Halls Gateway is, bly in die slag. Dunè Janse van Rensburg sê daar is drie groot, gevaarlike slaggate op die draai na die glipweg vanaf die N4-ringpad wat om die stad loop.

LEES OOK: Bobaas-bakker gekroon vir die beste tradisionele melktert by vanjaar se melktertuitdaging

Die beste beskrywing van die krisis is deur Attie Henning: “Dit lyk soos ‘n sinkgat wat in Van Wijkstraat is.”

“Daar is ‘n pragtige gróót een in Juanitastraat oorkant die parkie. Dit is nou al maande daar,” sê Elna Marx van Sonheuwel.

Een van die grootste bydraende faktore tot die ontstaan van slaggate, sê ‘n paaie-ingenieur wat anoniem wou bly omdat hy werk vir die owerheid doen, is die reën wat die afgelope tyd in die Laeveld val.

“Nie dat die reën buitensporig swaar geval het nie, maar die gehalte van die vakmanskap tydens die herstel van vorige slaggate laat veel te wense oor.”

‘n Ander probleem, sê nog ‘n kundige, is die slote en gate wat veral Silulumanzi in en oor paaie grawe om stukkende waterpype te herstel.

“Die gehalte werk wat hulle doen om paaie te herstel is power. Daar is ‘n sekere proses wat gevolg moet word. Die pad se bedding (fondasie) moet van onder vervang word en dan laag vir laag gekompakteer word voordat ‘n teerlaag opgesit kan word.

“Deesdae grawe hulle eenvoudig die los grond uit, gooi vloeibare SS60 (asfaltlae) daaroor en pak dan die teerlaag op.”

‘n Foto wat gister geneem is by ‘n plek waar Silulumanzi ‘n pyp herstel, wys dat die pyp slegs sowat 300 mm onder die teer oppervlak begrawe word. Dit behoort minstens 800 mm diep begrawe te word.

Om die geval te vererger, is ‘n afsluitkraan aangebring in die pyp wat ook begrawe gaan word. Wat stukkende straatligte in die stad betref, lyk dinge nie veel beter nie.

In een van die kortste strate, Kortstraat in Uitbreiding 5, is twee ligte nou al weke buite werking, sê Dries Rademan, ‘n inwoner.

Dries van Wyk wat in Ferreirastraat woon, sê ‘n straatlig oorkant sy huis is nou reeds drie jaar buite werking. In Van Wijkstraat mor Jeanette Els weer oor die straatligte wat dag en nag brand.

Skriftelike navrae oor die probleme wat gestuur is aan Joseph Ngala, woordvoerder van Mbombela, was teen druktyd steeds onbeantwoord.

Laevelder het as proeflopie gister self die owerheid geskakel om navraag oor ‘n stukkende straatlig te doen.

“Ons het nie geld om gloeilampe te koop nie,” het ‘n geïrriteerde amptenaar geantwoord.

LEES OOK: Bergvlam se top dirigent deel sy interhoër-ervaring

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button