Local newsNews

Plaaslike dokter sukkel al 30 jaar om woonarea skoon te hou

Vir meer as 30 jaar al sukkel 'n mediese dokter van die stad om iemand sover te kry om twee onbeboude erwe langs sy huis in Van Wijkstraat skoon te hou.

Dr. Jan Joubert en sy vrou, dr. Lia de Bruyn, het in 1987 hulle wortels geskiet in Van Wykstraat 35. Sommer binne die eerste paar maande het die onversorgde en oorgroeide toestand van die erwe Joubert begin pla.

Tot vandag toe weet hy nog nie regtig wie die eintlike eienaars van die erwe is nie.”Ek vermoed maar dit behoort eintlik aan die stadsraad, alhoewel ek dit nog nooit bevestig kon kry nie.”

Joubert sê die afgelope jaar of twee het hy male sonder tal vergeefs by die Mbombela Plaaslike Owerheid aangeklop om iemand op te spoor wat na die gemors kan kom kyk.

LEES OOK: Bobaas-bakker gekroon vir die beste tradisionele melktert by vanjaar se melktertuitdaging

“Die een amptenaar na die ander, en die een afdeling na die ander, trek net skouers op en sê dat dit nie hulle verantwoordelikheid is nie.”

‘n Paar maande gelede het ‘n vragmotor opgedaag met vier werkers wat gesê het hulle is daar om indringerplante op die persele te verwyder.

“Drie van hulle het op die sypaadjie gelê en slaap terwyl een ‘n powere poging met ‘n kragsaag aangewend om ‘n klompie plante en bome af te sny.

“Eintlik was my buurman die grootste slagoffer, want hulle het ‘n pragtige bougainvillea teen sy erf se grens afgesaag, omdat hulle gesê het dit is ‘n indringerplant.”

Tans lê daar hope bourommel en sakke vol huisvullis die hele erf vol. Omdat die twee erwe ‘n baie steil gradiënt het, glo Joubert dit mag ‘n rede wees waarom niemand nog ooit probeer het om die erwe te ontwikkel nie.

Die munisipaliteit het teen druktyd nog nie op navrae oor die eienaarskap van die erwe gereageer nie.

LEES OOK: Bergvlam se top dirigent deel sy interhoër-ervaring

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button