Stokke swaai vir Waterval CVO se fondsinsameling
Die gholfstokke het onlangs weer wild geswaai op die baan van Tubatse Chrome se buiteklub, en dié keer ten bate van Waterval CVO se fondsinsameling.
Waterval CVO is ‘n klein skooltjie in die hartjie van die Steelpoort-vallei en volgens personeellede is dit ‘n skool met inbors en trots. Die skool bestaan al vir meer as 25 jaar, en sonder behoorlike fondsinsamelingsprojekte soos dié, sou die skool nie kon voortbestaan nie.
Die skool het dit goedgedink om ‘n gholfdag te reël waar alle fondse aangewend gaan word soos en wanneer die skool dit benodig.
Die spel was egter in ligte luim gespeel en ‘n jolige atmosfeer het gesorg vir meer kaperjolle tydens die spel as normaalweg. Die insameling was volgens die skool ‘n groot sukses en die skool wil almal bedank wat deel was van die reëlings, organisering en natuurlik ook deelname aan die dag.


