Verloofde maak oop oor lt.kol. Leroy Bruwer se sagmoedige hart
Lt. kol. Leroy Bruwer se verloofde, Tarina van Wyk, praat oor hoe hulle ontmoet het en wat hy vir haar beteken het.

By lt.kol. Leroy Bruwer en sy verloofde, Tarina van Wyk, se huis aangekom, sien jy die Cruiser wat regstaan om Kalahari toe te gaan. Jy sien die hek wat hy net die naweek voor haar verjaarsdag klaar gebou het. En jy sien die bankie wat hy spesiaal vir hulle in die tuin gesit het.
By die groen draadtuinstel waar hy altyd na werk met ‘n sigaret en ‘n drankie sou sit terwyl sy by die kombuisdeur met hom staan en gesels, vertel sy waar hulle paadjies die eerste keer gekruis het.
“Ons ken mekaar al vandat ons 10 jaar oud is. Ons het in Laerskool Numbi saam skoolgegaan en ek sal nooit die dag vergeet toe hy en sy boetie in die skool aangekom het nie. Dit was twee sulke klein, maer seuntjies met sulke knopknietjies en kaal voete.”
Hulle was van laerskool af al maats en het saam matriek geskryf, waarna hulle paaie vir eers uitmekaar gegaan het.
LEES OOK: Die Nellie Miere vier vanjaar hulle 20ste bestaansjaar
“So drie jaar gelede het hy my eendag ‘n boodskap op Facebook gestuur en ons het begin gesels. Ek dink ons het die Sondagaand gesels en die Dinsdagaand toe vra hy my: ‘Wat doen jy die naweek? Ek kom kuier, ek wil weet waarheen gaan ons?'”
Hulle heel eerste afspraak was in die dieretuin, en van daar af is die res geskiedenis. ‘n Paar maande na daardie eerste herontmoeting, het sy by hom ingetrek.
“Dit was ‘n sprokie wat vir ons albei waar geword het. Hy het altyd gespot en gesê ek was op skool sy droom. Na die tyd het ek eers gehoor hy wou my gevra het na die matriekafskeid.”
Sy lag terwyl sy sê hoekom hy haar nooit gevra het nie: “Sy beste pêl, Sean, het my gevra. Toe vra ek, maar hoekom het jý my nie gevra nie? En hy sê, ‘Nee, Sean was altyd in die pad.'” Sean is steeds ‘n goeie vriend en ook die pastoor wat die begrafnisdiens hanteer het.
In terme van hul veiligheid het hulle maar altyd oor hul skouers gekyk. “Ek het geweet watter gevaarlike werk dit is. Ek dink tog as ‘n mens eerlik wil wees, moes hy geweet het hy is in gevaar.”
LEES OOK: Perde hardloop vrylik in die ring rond op Aryana-stoetplaas vir oues se genot
Haar verjaarsdag sal van nou af ‘n somber dag wees. “Laasjaar op my verjaarsdag het hy die ja-woord gevra en ons het verloof geraak. Die dag na my verjaarsdag hierdie jaar, toe haal hulle hom uit,” sê sy, nie sonder emosie in haar stem nie.
“Ons sou 22 Augustus getrou het, in die wildtuin. Ons albei se harte lê in die bos.”
Vir die wittebrood sou hulle Kalahari toe gegaan het vir die 4×4-roetes saam met vriende. “Hulle het net gesê ons gaan nog steeds gaan. Ons sal die laaste eer daar aan hom gaan betoon.”
Die twee was kamerade wat mekaar net verstaan het en met hul natuurharte was baie van die dinge wat hulle saamgedoen het, juis ook daarin gegrond. “Ons het saam houtwerk gedoen, ons het saam tuinwerk gedoen; as hy iets gedoen het, het hy my kom roep en gesê: ‘Kom kyk gou-gou!'”
Sy ontwerp dikwels borduurprente en juis as gevolg van sy fokus op die fyner besonderhede in die lewe, kon hy selfs wenke aanbied daarvoor. “Hy het presies geweet hoe om vir my leiding te gee om iets die beste te laat lyk, en dit gaan ek baie mis.
“Die mense, sy kollegas wat saam met hom gewerk het en wat op die oomblik met my saam werk, is ongelóóflik. Die ondersteuning wat hulle vir my gee! Hulle ken my in alles. Daar is net niks wat vir hulle te veel moeite is om my mee te help nie.
LEES OOK: Nuwe pastoor sluit aan by PPK in Mbombela
“Sy kollegas is baie erg oor hom en almal is verskriklik geskok. Daar is nie een wat sonder trane met my kan praat nie, maar ek dink nie baie mense het hom geken en gesien soos wat ek hom geken het nie. Ek sê altyd, as hierdie ou boewe maar geweet het watse sagte hartjie hy eintlik gehad het… Maar glo vir my, hy was nie sag met hulle nie.”
Lt.kol. Bruwer word oorleef deur sy pa, ‘n ouer suster en twee jonger broers.
