Laerskool Witrivier se hoof tree af na 41 jaar
Laerskool Witrivier se skoolhoof, Frannie van der Riet, sal vanjaar na 41 jaar se diens aan die skool die tuig neerlê

Toe Frannie in Januarie 1979 sy onderwysloopbaan by Laerskool Witrivier begin het, was daar ongeveer 900 kinders in die skool. Die skool is in die vroeë negentigs vir leerders van alle rasse oopgestel en, anders as wat doemprofete dit wou hê, was dit ’n gladde proses.
LEES OOK: Skole bly innoverend tydens die koronavirus-grendelstaat
“Snaaks genoeg het ons in vroeër jare meer konflik by die skool gehad tussen die Engelse en Afrikaanse kinders as wat ons na integrasie gehad het,” vertel hy.
Die skool se leerdertal het na integrasie gegroei na omtrent 1 200.
Frannie het Wiskunde en Natuurwetenskap aangebied, en later net Natuurwetenskap en Tegnologie, soos die benaming verander het. Hy is in 2002 as skoolhoof aangestel. Hy reken hy het waarskynlik vir meer as 8 000 kinders klasgegee in sy loopbaan.
Wat was die grootste verandering in onderwys in sy loopbaan?
“Sonder twyfel die regte wat leerders gekry het maar, ongelukkig daarmee saam, die feit dat die leerders nie die verantwoordelikhede wat saam met die regte gaan aanvaar het nie. Maar dis dit. Onderwys het in beginsel dieselfde gebly deur die jare heen, want die boustene het dieselfde gebly.”
’n Ander groot verandering is die hoeveelheid werk wat leerders kry. “Die veranderde leerplan maak dat leerders en hulle ouers nou in die middae saam moet huiswerk doen. Dit is natuurlik ’n baie groot verandering.
In sy tyd by Laerskool Witrivier het die leerdertal gegroei en daarom ook die hoeveelheid klaskamers.
“Die departement het deur die jare 13 klaskamers bygebou om ons kapasiteit te verhoog.”
Hy sê die skool het in die grendeltyd in kontak gebly met leerders: “Ons stuur skoolwerk deur WhatsApp aan, maar dis net hersiening, niks nuwe werk nie.”
Frannie is oortuig daarvan die verlore skooltyd ingehaal kan word deur van die voorstelle wat aan die onderwysdepartement gemaak is.
“Langer skooldae en ’n Saterdag hier en daar behoort genoeg tyd te gee vir ons personeel en leerders om die akademiese jaar suksesvol te voltooi.”
Hy is getroud met Gail, wat die hoof is van Flamboyant Skool, ook in Witrivier. Hulle een dogter is ook ’n onderwyseres en hulle ander dogter is ’n geneesheer. Hulle het twee kleinkinders.
LEES OOK: Tiener skenk selfgemaakte maskers aan Mediclinic
“Gelukkig is ons kinders en kleinkinders hier in die Laeveld en ons gaan nie weg trek na aftrede nie. Ek is nog altyd baie lief vir die natuur en die Krugerwildtuin en na my aftrede wil ek as gids kwalifiseer om mense in die wildtuin te kan rondneem,” vertel hy.
