Helder oor dag aangeval
Kort voor die inperking is twee tieners, 'n meisie en seun (16), helder oordag en skaars 'n paar honderd meter van hul huise aangeval en beroof.
Die voorval het in Aloe Ridge West plaasgevind.
Die tieners het glo vir ‘n laatmiddag stappie gegaan om ‘n bietjie uit die huis uit te kom. Hulle was nie vêr van die dogter se huis af nie, toe drie gewapende mans hulle voorkeer. Een het ‘n pistool gehad en die ander twee messe.
Hulle het na wat verneem word die kinders hardhanding hanteer en ook rondgeruk en -pluk. Die mans het toe beveel dat hulle hul selfone en beursies oorhandig. Daarna is albei deeglik ondersoek om seker te maak dat hulle nie nog waardevolle items wegsteek nie.
Die verdagtes het ook tydens die roof die tieners se pinkodes vir die selfone gevra. Toe hulle oortuig was dat daar niks meer is om te steel nie, het die mans die pad gevat. Die dogter en haar vriend het so gou as moontlik na haar huis gehardloop vanwaar sy haar ma ingelig het van wat gebeur het.
Haar ma het op die WhatsApp-sekuriteitgroepe ‘n noodboodskap uitgestuur sodat die publiek op die uitkyk vir die mans kan wees. Hulle is tot en met druktyd nog nie aangekeer of weer gesien nie. ‘n Saak is by die polisie geopen.
