Local newsNews

Unieke omstandighede vereis unieke oplossings

Plaaslike kunstenaars gebruik sosiale media om hulle mark te bereik.

MBOMBELA – Die Covid-19 koronavirus het die musiekbedryf onmiddellik tot stilstand gebring.

Marley van Wetten van Small Town Music sê dat al die optredes wat sy vir kunstenaars gereël, gekanselleer moes word.

Kunstenaars het egter nie gewag dat daar gras onder hulle voete groei nie.

Die musikant Francois van Coke het mense oor sosiale media gevra om ‘n video te neem waar hulle sy liedjie “Dagdrome in suburbia” sing, met die hutsmerk #dagdroomchallange.

LEES OOK: Opgetof om vullis uit te vat

Brian Wilkonson en sy dogter, Blake, het die uitdaging aanvaar.

Brian is ‘n musikant van Mbombela en het ‘n gedeelte van die liedjie op sy kitaar gespeel en saam met sy dogter gesing.

Van Coke het die video saam met ander van mense wat die uitdaging aanvaar het, op sy Facebook-blad geplaas.

https://www.facebook.com/639635552770561/posts/3041891792544913/

Jaime Negrao, wat deel vorm van die musiekgroep Soul Taxi SA in Mbombela, plaas gereeld videos van waar hy op sy stoep sit en op die kitaar tokkel.

Die groep gaan virtueel begin saam speel.

“Dit is net ‘n manier om met ander musikante te kuier,” sê Negrao.

Hy vertel dat hulle vanaand weer ‘n video gaan plaas.

“As dit ‘n bietjie hoop vir iemand bring terwyl ons lekker speel, dan is dit goed so.”

LEES OOK: Verloofde maak oop oor lt.kol. Leroy Bruwer se sagmoedige hart

https://www.facebook.com/soultaxisa/videos/212468990077751/

Andrew Duggan, ook ‘n plaaslike kunstenaar, plaas ook gereelde video’s van homself waar hy sing en kitaar speel op sosiale media.

Hy het sy eerste video “She says” op Facebook geplaas met die boodskap dat alles reg sal kom.

Hy vertel dat die sosiale media-video’s iets nuut vir hom is.

“Ek is die vyfde stuk van ‘n vyfstuk-musiekgroep, en ons tree al 20 jaar saam op. Ek begin stadig maar seker my eie ding doen vandat ek Mbombela toe getrek het,” sê Duggan.

Duggan voel dat die videos iets kan wees wat mense deur die moeilike tye kan help.

LEES OOK: Live-stream in a house near you with Unite180

Baie mense het vir hom gekontak deur persoonlike boodskappe te stuur of kommentaar te los, wat hom bedank vir wat hy vir hulle doen.

“Die klankkwaliteit is aaklig, maar dit is net my manier om ‘n bydrae te lewer, behalwe om tuis te bly. Miskien is iemand deel van noodsaaklike dienste, kom by die huis en is lus om na iets te kyk na ‘n moeilike dag, dan is ek bly om my kant te bring,” sê Duggan.

Hy vertel dat hy bang is dat dié virus kunstenaars se normale manier van optree verwoes het en dat dit hulle inkomste beïnvloed.

“Ek dink dat al is die inperkingstydperk verby, gaan sosiale distansiëring steeds voortduur en mense gaan neerkyk op groot byeenkomste, dus moet ons ander maniere vind om ‘n bestaan te maak. Om aanlyn op te tree is die logiese manier.”

https://www.facebook.com/andrew.duggan.7549/videos/10157752150476953/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button