Marloth se sakelui gee om
Die gemeenskap bewys die belangrikheid van saamstaan in hierdie korona-grendelstaat.

As gevolg van die menigde families wat in hierdie tyd sukkel omdat hulle afgedank is of nie inkomste kry nie, het Elize Styer, eienaar van Ingwe Supermarket, dit goed gedink om terug te gee aan die gemeenskap.
Styer samel kos in wat die Marloth Park Community Police Forum (CPF) uitdeel aan minderbevoorregtes.
“Daar is families in ons gemeenskap wat tans baie sukkel,” het Styer op die winkel se Facebook-blad geskryf op 6 April. “Ons het ‘n boks by die ingang geplaas en vra asseblief vir almal om asseblief kos by te dra.”
Die kos wat geskenk word is nie noodwendig alles by dié winkel gekoop nie.
LEES OOK: Pro Gratia leermetodes gedurende grendeltydperk
“Ons wil nog steeds ‘n diens aan mense verskaf wat wel finansies het en noodsaaklike items beskikbaar kan maak wat hulle ook nodig kry,” het Styer gesê. “Mense kan blikkieskos of enige iets bring wat die gesinne sal kan help.”
Ingwe Supermarket het gevriesde kos en vleis geskenk. Die Marlothi-inkopiesentrum het ook bydra gemaak tot die projek.
“Ek weet ons almal gaan tans deur ‘n moeilike tyd, en dit gaan dalk ook nog moeiliker raak, maar ons moet almal saam staam en mekaar help,” vertel Styer verder.
Ingwe Supermarket het ook onderneem om eerder inkopies by mense se huise te gaan aflewer – maskers en al!
“Dit verminder dan voete in die winkel, wat ook dan die kans verminder vir die virus om te versprei.”
Marloth Park CPF het hulle eie lysie van gesinne wat kos en noodsaklike items nodig het en is steeds aan die gang om hierdie items uit te deel onder hulle.
Styer vertel ook dat daar mense uit ander dele van Suid-Afrika en ook die buiteland haar gekontak het om uit te vind hoe hulle ook kan help.
“Ek het vir hulle my bankrekening-besonderhede gestuur, en met al daardie geld gaan koop ek grootmaat aan by die groter kettingwinkels sodat ons vir almal kos kan uitdeel,” sluit sy af.
LEES OOK: Opgetof om vullis uit te vat
