Local newsNews

Pro Gratia leermetodes gedurende grendeltydperk

Dié skool werk aan spesiale oplossings vir kinders met spesiale behoeftes gedurende die grendeltydperk.

Pro Gratia is ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes. Elke kind is uniek. Alhoewel daar vier “fases” by die skool is wat vier verskillende kurrikulums volg, het elke leerder ook sy/haar eie leerplan.

Volgens Claudé Engelbrecht, akademiese hoof en opvoedkundige sielkundige by die skool, is die uitdagendste deel van hierdie grendeltydperk elke kind se individuele behoeftes en akademiese vlak.

“Ons kan nie net vir die klas ’n aktiwiteit of ’n taak via WhatsApp stuur nie, want elke kind is uniek en almal doen nie dieselfde werk nie.”

KYK OOK: Plaaslike sekuriteitsfirma ontsmet inkopiesentrums in Komatipoort

Sy brei verder uit oor hoe hulle dinge doen gedurende hierdie tydperk.

“Ons het ’n onderwyseres by die skool, Jeane Pienaar, wat baie innoverend is. Sy het vir ons senior leerders (die Engelse en Afrikaanse klasse) deur middel van Google Classrooms ’n virtuele klaskamer geskep. Die leerders in die klas is in drie groepe ingedeel volgens hulle akademiese vlak en behoeftes.

“Ouers kan daagliks inteken, kliek op hul kind se klas en vlak, en daar is dan elke dag of twee nuwe leeswerk, begripstoetse, sigwoorde, ensovoorts. Die werkkaarte en begripstoetse word ingedien deur die “submit”-knoppie te druk, en sodoende kan die onderwyseres die inhoud nagaan en korrigeer. Sy vind, ontwerp, en voer nuwe aktiwiteite daagliks in haar kuber-klaskamer in.”

LEES OOK: Opgetof om vullis uit te vat

Sosiale-wetenskap lesse word as video’s aangebied en ouers kry dan bloot ’n skakel na ’n YouTube-kanaal. Hierdie les word so saamgestel dat kinders op verskillende vlakke daaruit kan leer.

In die geval van kleuters en graad-R of -een leerders, kommunikeer onderwysers individueel met elke ouer en stuur aktiwiteite aan hulle. Dit sluit meer praktiese perseptuele aktiwiteite in as papier-werkkaarte.

“Ons terapiespan kommunikeer gereeld. Daar is byvoorbeeld gister ’n video uitgestuur aan al die kinders in die skool wat propriosepsie (ruimtelike oriëntasie) probleme ondervind. Die video wys vir ouers hoe om die Wilbarger Borsel-tegniek en diepdrukke toe te pas op hul kinders. Die kinders kry dus terapie by hul ouers. Die meeste van ons ouers stel belang, werk saam en is entoesiasties. Ons is dankbaar hiervoor.”

Hul praktiese vaardigheidsleerders kry ook nog kooklesse wat hulle by die huis kan oefen.

“Ons verlang baie na ons kinders. Hulle lê ons elkeen na aan die hart,” sê Engelbrecht.

“Ons is ook bekommerd oor maatskaplike probleme wat tydens hierdie tydperk moontlik kan vererger, en dan is ons nie dadelik beskikbaar nie. Hierdie kommernisse sluit in moontlike fisiese mishandeling en hongersnood. Ons het 30 kinders wat daagliks ’n gratis maaltyd kry by die skool. Ons bekommer ons oor hierdie kinders.”

“Ek gaan ’n video opneem waarin ek die kinders uitnooi om my op my selfoon te kontak as hulle my nodig het en ek gaan die video saam met die lesse uitstuur,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button