Elke bietjie dra by tot spensies vir mensies
Die nasionale inperking het die kollig op sosio-ekonomiese ’n ongelykhede in Suid-Afrika laat skyn.

Daar is talle gesinne wat nie hul spense met die noodsaaklike kruideniersware kon vul nie en wat ’n helpende hand broodnodig het.
’n Groep gemeenskapslede het besef dat daar gesinne is vir wie hierdie inperking ’n moeilike tydperk sal wees. Hulle het besluit om met ’n inisiatief vorendag te kom om die las te verlig.
DA-raadslid, Phillip Minnaar, sowel as Cindiloo Liddle en James Brickhill, het daarom Spensie vir ’n Mensie gestig om as ’n gemeenskap saam te werk en bystand aan gesinne in nood te verleen.
Die drie gemeenskapsleiers het verder vertel dat inwoners nie-bederfbare kos, babakos, melk, doeke, groente en vrugte kan skenk wat dan by hierdie gesinne afgelewer sal word.
LEES OOK: “Ons gee om,” sê organisasie tydens inperking
“Die publiek kan skenkings by 9 Tambotiestraat aflaai en Minnaar, wat ’n permit het, sal die goedere aan die families besorg. Mense het ons begin nader en dit lê ons baie na aan die hart om hulle in hierdie tyd te kan help,” het Liddle gesê.
Brickhill het bygevoeg dat sy gevoel is dat dit belangrik is dat die gemeenskap tydens die Covid-19 koronavirus-pandemie, moet saamstaan.
“Wat dinge erger maak is dat daar tydens die inperking baie mense, ongeag ras of geslag, is wat hulp in terme van kos en ander noodsaaklike items, benodig.
“Ons pleit met enigiemand wat selfs ’n R10 kan gebruik om blikkieskos te koop, om te help. Stel jou voor as ons almal dit kan doen, hoeveel behoeftige gesinne ons sal kan help gedurende hierdie swaar tydperk,” het hy gesê.
“Inwoners kan my kontak by 082-363-7184 om skenkings te maak of om hulp te verkry,” het Liddle gesê.
LEES OOK: Tannie Babs: ’n eeu se herinneringe
