Laeveld neem afskeid van ‘n ikoon in onderwys en sport
‘n Geliefde onderwyser en plaaslike skolesport-administrateur, Calie van der Merwe, is hierdie week op die ouderdom van 76 in die stad oorlede. Hy het lank met hartkwale gesukkel.

Calie was 16-jaar ‘n onderwyser by Laerskool Nelspruit en daarna 23 jaar by Laerskool Laeveld. Saam met sy vrou Ria was hulle stigtersonderwysers van Laerskool Laeveld.
Hy was ‘n Nelspruiter in murg en been en was hier op skool sedert die begin van sy eie laerskoolloopbaan. Sy pa was aan die Suid-Afrikaanse Spoorweë verbonde.
Na sy onderwysstudies op Heidelberg het hy na die Laeveld teruggekeer en in 1966 hier begin skoolhou tot en met sy aftrede. Menige Laeveld-kind het vandag nog goeie herinneringe van hom as onderwyser en sportafrigter.

Sy sportbelangstelling was groot, maar tennis het hom naaste aan die hart gelê. Vroeër jare het hy ook sportberigte vir Laevelder geskryf, maar sy uitgebreide reeks oor sportlegendes van die Laeveld wat ook in die koerant verskyn het, was ‘n belangrike bydrae tot die geskiedskrywing van die streek.
LEES OOK: Onderwysers by Witrivier privaatskool nie betaal nie
So was geskiedenis sy ander groot belangstelling en was hy ‘n belangrike bron van kennis oor veral die Laeveld, wat nou verlore is.
Calie laat sy vrou Ria, twee dogters, Melanie en Corlene, en een seun Naudé, agter. Hy het Ria juis as jong onderwyser by Laerskool Nelspruit ontmoet. Naudé het in sy pa se voetspore gevolg en gee onderrig op Secunda.
LEES OOK: Elke bietjie dra by tot spensies vir mensies
