Skole bly innoverend tydens die koronavirus-grendelstaat
Laerskool Laeveld beskou tegnologie as die nuwe brandstof om skool te draf en vir personeel, ouers en leerders te kommunikeer.

Laerskool Laeveld span tegnologie in om leerders te help om steeds by die huis te kan skoolgaan.
Volgens die hoof van akademie, Niël Jacobs, stel die onderwysers vir die afgelope twee weke werkstukke en memorandums op die skool se D6 School Communicator beskikbaar aan al hulle leerders.
Die D6 School Communicator is ‘n toepassing wat deur baie skole gebruik word om met ouers te kommunikeer.
Wanneer die toepassing afgelaai hoef die ouers slegs hulle skool te kies. Personeel by die skool kommunikeer per WhatsApp-groepies met ouers.
“Ons verwag nie dat ons ouers skielik ons werk as onderwysers oorneem nie, maar baie ouers wil graag vir boet en sus help terwyl hulle tyd as gesin saam spandeer,” sê Jacobs.
Volgens hom is die werk positief deur die ouers en leerders ontvang.
“Hierdie manier van kommunikeer is ons korttermynoplossing terwyl ons reeds na alternatiewe maniere begin kyk het. Soos baie ander skole word ‘n mens oorweldig met al die tegnologie wat daar buite beskikbaar is en word mens bietjie gedwing om kreatief en ‘buite die boks’ te dink,” sê Jacobs.
LEES OOK: TB-pasiënt kry hulp na Departement van Gesonheid ingryp
Die skoolbestuur en die dagbestuur het onlangs op die platform Zoom vergader.
“Dit was lekker om te sien hoe almal koppe bymekaarsit. Ons het besef dat ons altyd die skool met leer geassosieer het; nou weet ons dat die leerproses nie net by die skool hoef plaas te vind nie, maar enige plek,” sê Jacobs.
Die skool het begin om ‘n internettoeganklikheidsopname onder die onderwyspersoneel te doen om vas te stel hoe en waar hulle moet help.
Na aanleiding van die opname het hulle begin om personeel met geen of swak toegang tot internet by te staan sodat hulle wel ‘n stabiele internetkonneksie kon gebruik.
Na deeglike ondersoek tussen die beskikbare tegnologie het hulle op die platform Microsoft 365 Education besluit, aangesien elke personeellid en leerder van die skool gelisensieerde Microsoft-toepassings ontvang.
Die skool is besig om die lisensies aan personeel en leerders beskikbaar te stel, waarna aanlynlesse op die Teams-platform aangebied sal word.
“Ons beskou hierdie uitdagende, dog opwindende nuwe era as ‘n langtermynoplossing wat sal verseker dat klasse voortgaan al kan ons nie by die skoolgeboue uitkom nie,” sê Jacobs.
“Hierdie proses kom met baie uitdagings en oorreed mense om te herbesin: Data is die nuwe ‘brandstof’ wat jou by die werk of skool kry. Microsoft, YouTube, Google en tegnologie-ondersteuningsgroepe word ons nuwe ‘kollegas’ soos wat ons hierdie nuwe manier van klasgee aandurf.”
LEES OOK: Laeveld neem afskeid van ‘n ikoon in onderwys en sport
Jacobs sê dat hulle besef daar is van hulle leerders wat nie internettoegang, ‘n slimfoon, tablet of rekenaar het nie, maar dat hulle nie net hande in die lug kan opgooi nie.
“As skool sal ons elke uitdaging tot die beste van ons vermoë probeer aanspreek en oorkom. Ons is reeds in gesprekvoering met ons internetdiensverskaffer, Bulldog ISP, om spesiale internetpakette vir ons personeel en leerders daar te stel,” sê Jacobs.
Jacobs sê dat hulle nie al die antwoorde op al die uitdagings het nie, maar dat dit hulle nie verhoed om innoverend te wees nie.
“Ons personeel is gemotiveerd en gaan intussen met opleiding begin wat op sigself ook ‘n lekker uitdaging gaan wees, aangesien dit aanlyn moet gebeur. As alles goed gaan behoort ons binne die volgende twee weke aanlynlesse vir ons leerders te bied,”
Leerders wat moontlik, ten spyte van alles wat die skool daarstel, steeds nie toegang tot aanlynlesse of D6-werkstukke het nie, hoef geensins bekommerd te wees nie.
Die aanlynlesse sal opgeneem en op Teams beskikbaar wees en die onderwysers sal hierdie leerders bystaan om op datum te kom wanneer skole weer open.
