Terug in SA ná virus droomvakansie kelder
Twee Nelspruiters se droomvakansie na Spanje en Portugal het baie vinnig ontaard in ’n avontuur van ’n ander aard toe hulle letterlik voor die coronavirus uit moes vlug om net-net voor die inperking terug te wees by die huis.

Katinka Engelbrecht en haar man, Hennie, het op 1 Maart na Madrid in Spanje vertrek vir ’n vakansie waarna hulle vir baie lank uitgesien het.
LEES OOK: Skole bly innoverend tydens die koronavirus-grendelstaat
Sy het haar WhatsApp-geselsies oor hulle avonture saam met hulle “swart skaap wêntjie” (kampeerwa) uit die vreemde met ons gedeel.
Op 13 Maart in Seville in Spanje het die erns van Covid-19 vir die eerste keer ’n werklikheid geword toe hulle weggewys is by een van die kastele wat gesluit was as gevolg van die virus. In daardie stadium was daar reeds gevalle van mense wat positief getoets het vir die Covid-19-virus in al die provinsies van Spanje.

Op 14 Maart is inperkingsmaatreëls aangekondig en op 29 Maart is aangekondig dat almal behalwe essensiële werkers vir die volgende 14 dae by die huis moes bly.
Maar ten spyte van wat rondom hulle gebeur, het hulle positief gebly.
“Hierdie twee Engelbrechts kuier nog lekker ten spyte van die wêreld wat in rep en roer is oor die coronavirus,” het sy haar familie en vriende in Suid-Afrika in haar WhatsApp-geselsies vertel. Ons is heeltemal bewus van alles. Ons is nie onverskillig nie, maar ons is hier.”
“Sekere goed sal ons nie kan sien nie, maar nou sien ons ander wat ons dalk sou mis! Ons is versigtig. Ons drink elke dag vitamines en as die ergste gebeur en ons word siek sal ons ’n plan of twee kan maak. Intussen geniet ons alles.”
’n Paar aande later slaap hulle oor in El Puerto de Santa Maria. Alles is toe behalwe die supermark, maar ’n toeris waarsku hulle dat die rakke taamlik leeg is. Hulle kom klaar met wat hulle het: Game-poeier vir koeldrank, brood, botter, twee blikkies sardientjies, droë vrugte, ’n paar baba-aartappels, ’n ui en koffie.

Op dag 14 van hulle reis wat sewe weke sou duur, gebeur dit wat almal gevrees het. Hulle bevind hulself vasgevang in die suide van Spanje.
“Ons is darem naby ’n strand. Ons het ’n sak vol medisyne en baie snesies. Die kampterrein se badkamers is baie mooi. En supermarkte moet oop wees, asook apteke en vulstasies. Ons was wasgoed en lees. Ons reis nie meer nie; ons hou vakansie. Ons begin werk aan ’n plan om huis toe te gaan – nie oor ons nie hier wil wees nie, maar omdat alles toe is en ons niks sal kan sien nie.”
Die volgende dag laat weet sy. “Oppad Lissabon toe. Ons vieg die 19de en sal die 20ste tuis wees.”

Hulle maak dit deur die polisie-blokkade tot in Portugal en tot in ’n kampeerplekkie buite Sintra in Portugal. Hulle het twee dae om die dorpie te verken voordat hulle ’n vlug moet haal terug na Suid-Afrika.
“Grense tussen Spanje en Portugal nou TOE. Sintra se strate is mos nog oop so ons dwaal vandag rond om nog die laaste mooi te sien van Portugal,” laat weet sy die mense by die huis.

’n Paar dae later is hulle uiteindelik op pad huis toe. “Ons is al by die hek. Ons vlieg amper. Ek dink die res van die Suid-Afrikaners wat nog in die buiteland was is nou op hierdie vlug. Ons gaan soos sardientjies sit.” En uiteindelik.
“Veilig geland. Op pad huis toe met gehuurde karretjie. Ons is albei flou.” En ’n bietjie later. “Ons is veilig tuis. Bly om ons hondekinders weer te sien. Daar is maar nie ’n plek soos die huis nie. Ons toetse vir die coronavirus was albei negatief. Portugal en Spanje is nou ingeperk.
“Ek is so dankbaar vir ’n bed en kos elke dag. En vir vriendinne wat omgee en hulle humor. En vir familie wat omgee. Glo dit as julle wil, ons beplan al aan ons volgende reis na Portugal en Spanje!”
LEES OOK: Laeveld neem afskeid van ‘n ikoon in onderwys en sport
