Kim Kerswill-verdagte maak eerste verskyning
Meer as vier maande nadat Kim Kerswill (19) in ’n motorongeluk gesterf het, het ’n 20-jarige man uiteindelik vandag in die hof verskyn.

Lance Martin Smith (20), ’n oudleerling van Hoërskool Nelspruit en ’n kennis van Kim, word van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol aangekla.
Die polisie het oorspronklik ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek, maar die klag is later na dié van strafbare manslag verander.
Volgens die ondersoekbeampte, Sers. Michael Horn, is die ondersoek afgehandel.
LEES OOK: Tiener skenk selfgemaakte maskers aan Mediclinic
Haar pa, Johnny Kerswill, ’n bekende sakeman in die stad en sy dogter, Nicole, het die hofverrigtinge bygewoon.
Kim het ná ’n geselligheid op 16 Desember verlede jaar saam met Smith ’n geleentheid huis toe gekry sodat sy nie haar eie voertuig moes bestuur nie.
Smith het die voertuig waarvan Kim ’n passasier was, bestuur toe hy na bewering teen ’n hoë spoed in ’n vragmotor by die Samora Machel-R40 kruising vasgery het. Die ongeluk het volgens ooggetuies omstreeks middernag plaasgevind.

LEES OOK: Nelspruit Ma radeloos oor hoe om dogtertjie by die huis te kry
Kim het ernstige beserings aan haar kop, kaak, ribbes en arm opgedoen en moes met kake van die lewe uit die wrak bevry word. Smith is nie beseer nie.
Kim is aanvanklik in Mediclinic Nelspruit behandel en later na die Netcare Milpark Hospitaal in Johanneburg oorgeplaas waar sy aan haar beserings beswyk het.
Johnny het die polisie en in besonder vir Horn bedank dat die ondersoek so spoedig afgehandel is. “Die reg moet nou sy gang gaan,” het hy afgesluit.
Smith is op waarskuwing vrygelaat en die saak is na 24 Junie uitgestel, wanneer die verhoor na verwagting sal begin.