Een sterf, talle beseer in ongeluk op die R40
Een persoon is dood en talle ander beseer toe 'n bakkie en 'n taxi Dinsagoggend op die R40 gebots het. Die ongeluk het omstreeks 09:00 op die hoek van die R40 en Oostelike Boulevard-weg, tussen Makro en Riverside Mall, plaas gevind.

Volgens ooggetuies het die taxi in die rigting van Witrivier gereis en die bakkie, ‘n enkelkajuit Toyota Hilux, in die rigting van Mbombela.
Die bestuurder van die bakkie wou glo regs draai in die rigting van Makro toe die taxi na bewering versuim het om by die rooi verkeerslig stil te hou. Metrie Greyling van Hi-Tech Medical Services was eerste op die toneel.
“Ek was in dieselfde rigting as die bakkie op pad, toe ek die botsing in my tru-spieëltjie gesien het,” het Greyling gesê.
LEES OOK: Kim Kerswill-verdagte maak eerste verskyning
‘n Insittende van die bakkie het vertel hoe die taxi oënskynlik uit nêrens verskyn het. Dit is toe dat die bakkie teen die kant van die taxi bots.
Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor, en teen ‘n verkeerslig gebots. ‘n Manlike passasier, wie se identiteit nog nie teen druktyd onthul kon word nie, is weens die impak by die ruit uitgeslinger en is op slag dood. Albei passasiers van die bakkie is ongedeerd.

Volgens Greyling was daar ongeveer 10 passasiers in die taxi, waarvan ses geringe beserings opgedoen het, en drie ernstig beseer is. Teen druktyd was hulle toestand nie bekend nie.
LEES OOK: Laerskool Witrivier se hoof tree af na 41 jaar
