Laeveld se ‘onbekende swendelaar’ eindelik begrawe
André Pretorius, 'n man met 'n gladde mond en 'n oog vir 'n kwesbare ouer vrou, het onlangs 'n plaaslike begrafnisondernemer se probleem geword toe hy onverwags te sterwe gekom het.
Andrie Homann, eienaar van Martin’s Funerals in Nelspruit, vertel hy het op Maandag 13 April om 11:00 ‘n oproep ontvang om die liggaam van ‘n man te gaan haal wat oorlede is.
“Dit is niks ongewoon nie, maar die gesprek met die vrou in wie se huis Pretorius oorlede is, was baie vreemd. Alhoewel Pretorius vir twee en ‘n half jaar by haar gewoon het, en sy klaarblyklik vir hom gesorg het, het sy basies niks van hom geweet nie.
“Sy het vir my vertel dat Pretorius ‘n voormalige lid van die polisie se Koevoet-eenheid was en dat hy in ‘n stadium in ‘n Casspir-pantservoertuig gery het wat ‘n landmyn laat ontplof het en toe ses maande in die hospitaal moes bly as gevolg van skade aan sy niere.
As ‘n oud-polisieman wou ek sorg dat hy ‘n waardige begrafnis het, maar hoe meer ek van sy sogenaamde lewensverhaal gehoor het, hoe vreemder het dit geword.”
Hulle kon Pretorius nie amptelik identifiseer nie, want die vrou kon geen bevestiging van identifikasie van hom kry nie.
Homann sê die vrou,’n direkteur van ‘n plaaslike maatskappy wie se naam bekend is aan Laevelder, het vir hom stories vertel van André Pretorius wat eenvoudig nie sin gemaak nie.
Pretorius het aan haar vertel dat hy in sy hele lewe nog net vir een baas gewerk het: die veiligheidspolisie. Hy het vertel dat alhoewel hy net bevele gehoorsaam het, hy destyds voor die Waarheids- en Versoeningskomissie verskyn het en ter dood veroordeel is vir “misdade teen die mensdom”.
“Later het sy gesê hy het ‘n vonnis van 20 jaar uitgedien daarvoor en was saam met Eugene de Kock in die tronk.” Sy het gesê Pretorius het in die afgelope twee en ‘n half jaar drie maal aansoek gedoen vir ‘n identiteitsdokument, maar dit nooit ontvang nie. Sy het gedink dis oor sy kriminele agtergrond.
LEES OOK: NHS se eie prinses Diana oorlede
“Maar hoe kan ‘n vrou ‘n man met so ‘n gewelddadige geskiedenis by haar laat intrek?” vra Homann. “Dit maak net nie sin nie.”
Omdat hy nog onder die indruk was dat Pretorius ‘n oud-polisieman was, het hy die polisie genader in ‘n poging om hom te identifiseer.
“Die enigste André Pretorius wat ons kan opspoor wat in die SAPD gedien het wat naby aan sy ouderdom was, was ‘n man wat nege jaar jonger is as wat die ID-nommer waarmee hy rondgeloop het aandui.

“En hy was definitief nie ‘n lid van Koevoet nie. Hy het vir ‘n jaar en ‘n half as ‘spesiale konstabel’ gewerk in Krugersdorp. Hy was basies ‘n dagloner wat takies verrig het soos om hekwag te wees by die polisiestasie.”
Homann kon wel bevestig dat Pretorius ‘n kriminele rekord het – maar nie vir misdade teen die mensdom nie.
“Hy is gevonnis vir ses maande, opgeskort vir drie jaar, omdat hy hom voorgedoen het as ‘n polisieman.”
Toe hulle die korrekte identiteitsnommer sien, blyk dit dat Pretorius dit vervals het deur net sy geboortejaar te verander van 1969 na 1960.
“Pretorius het twee en ‘n half jaar gelede in Nelspruit aangekom en aansoek gedoen vir werk by die maatskappy waar die vrou ‘n direkteur is.
Daar was nie vir hom ‘n pos beskikbaar nie, maar dit lyk asof die vrou haar oor hom ontferm het oor sy beweerde moeilike lewe tussen die doodsvonnis en die 20 jaar tronkstraf,” sê Homann.
Die besonderhede is vaag, maar sy het vir Pretorius ‘n splinternuwe Yamaha-motorfiets gekoop, wat in haar naam geregistreer is oor hy nie ‘n identiteitsdokument kon kry nie.
“Maar sy was oortuig daarvan dat hy in ‘n stadium ‘n bestuurderslisensie moet gehad het, want Pretorius het ook vir haar vertel dat hy ‘n lid van die blitspatrollie was.”
Sy het ook vir hom duur klere en ander speelgoed gekoop, soos ‘n gaspistool en nagsigtoerusting. Homann het op al die stories afgekom omdat die vrou nie wou verantwoordelikheid aanvaar vir die koste van Pretorius se verassing en begrafnis nie.
“Ek het haar gevra om tussen Pretorius se besittings te soek na betaalstate, want hy het vir hulle buurman vertel hy het ontvang ‘n pensioen van die polisie. Sy het niks hiervan geweet nie en was oortuig dat daar geen pensioen ter sprake was nie.
Ek kon aflei dat sy toe begin besef het sy ken eintlik glad nie die man wat by haar gewoon het nie. “Maar intussen sit ons met die liggaam wat sy ons laat verwyder het, maar wil skielik nie meer iets weet van betaal nie. Selfs nadat ek ‘n vergunning gemaak het met die prys oor ek gedink het hy is ‘n oud-lid van die polisie.”
Maar die oggend van 16 April, stuur sy vir Homann ‘n sterkbewoorde WhatsApp-boodskap: “Reël asseblief met Forensiese Dienste, die staatslykhuis moet die ongeïdentifiseerde lyk wat deur Martin’s gehou word kom haal.
Hy is skielik dood, daar moet ‘n nadoodseondersoek gehou word. Daardie ID-nommer is vals… Daardie ongeïdentifiseerde lyk is nie my verantwoordelikheid nie!!!”
Al wat vir Homann oorgebly het, was om regstappe te neem en die vrou het toe wel betaal vir die verassing en begrafnis.
“Maar ons kon nog nie enige van Pretorius se familie opspoor nie. Ek het al op Facebook navrae geplaas, maar die inligting wat ek ontvang is net dat hierdie vrou nie sy eerste slagoffer was nie.
“As enigiemand weet van familie van André Pretorius, gebore 3 Junie 1969, kan ons gekontak word op 013-752-7380.”
LEES OOK: Mbombela ma’s vier Moedersdag met hulle grendelstaatbabas – Ontmoet Baba Zane
