Local newsNews

Standard Bank Innibos Kunstefees – Digitaal en wêreldwyd!

Die Standard Bank Innibos Kunstefees gaan vanaf 26 Junie 'n digitale kunstefees vir feeshonger-musiek- en toneelliefhebbers aanbied. Dit vervang nie die fees wat vir Desember beplan word nie, maar is ‘n opwindende toevoeging tot die Innibos-program.

Innibos Digitaal, wat gehou word in die tydgleuf wat die kunstefees oudergewoonte in Mbombela gehou sou word, bied sowat 20 produksies aan wat opnames van musiek en toneel uit die fees se argiefskatkis insluit.

Jy kan die magiese atmosfeer van die gewilde musiekkonserte, wat verlede jaar deur duisende mense op die feesterrein bygewoon is, op jou eie werf herleef. Die JacarandaFM-konsert en kykNet-Verjaardagkonsert is van die hoogtepunte van die Innibos Digitaal-program.

Die Verjaardagkonsert het ’n Fiësta-toekenning ontvang as die beste opelugmusiekproduksie landwyd.

’n Eerste in die Afrikaanse toneelbedryf is die digitale debuut van Leengoed, ’n komiese drama met Tobie Cronjé en Wynand van Vollenstee.

’n Virtuele prysuitdeling van die hoog-aangeskrewe Innibos Nasionale Kunshandwerkkompetisie (National Crafts Awards) met ’n aantal prysgeld van R100 000, sal die digitale fees afskop.

Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, sê die voortslepende Covid-19 koronaviruspandemie bring mee dat feesorganiseerders en kunstenaars meer kreatief as ooit te werk moet gaan. “Innibos Digitaal wil eerstens kunstenaars in dié uitdagende tye bystaan en seker maak hulle kry steeds ’n inkomste.

Die kunstefeesbedryf moet ook aanpas by die veranderende tye en tegnologie tot ons voordeel gebruik. Dit is wel ’n ietwat onbekende terrein, maar ons gryp dit met albei hande aan.”

LEES OOK: Innibos 2020 vind plaas in Desember

Innibos het deur die jare ’n argief opgebou met opnames van musiek- en toneelproduksies wat nou met vrug gebruik kan word, noem Jacobs. Nuwe opnames word in samewerking met Coleske Kunstenaars en MGG Produksies gedoen.

“Innibos Digitaal is ‘n gulde geleentheid vir liefhebbers van Afrikaanse musiek en toneel wêreldwyd om toegang te kry tot topproduksies en daardeur kunstenaars te ondersteun.”

In ander musiekproduksies is Stef Bos te sien in Bos innie Bos, Kevin Leo en Jannie Moolman in Crooners en Jannie du Toit in Doep Is Nie Dood Nie.Buiten die debuut van die drama Leengoed, is die toneelaanbod onder meer Manne, met onder andere Chris Vorster, People Are Living There met Anna-Mart van der Merwe en Op My Eish! met Neels van Jaarsveld. Die volledige program sal binnekort bekendgemaak word.

LEES OOK: ‘n Rolprent oor Gerrie Coetzee binnekort op die lappe

Kaartjies vir die Standard Bank Innibos Kunstefees Digitaal sal vanaf 15 Junie by Computicket bespreek kan word. Feesgangers sal ’n skakel ontvang. Die skakel bly vir 48 uur aktief nadat dit geaktiveer is.

Die beoogde datum vir die volledige Standard Bank Innibos Kunstefees is 10 tot 13 Desember, afhangend van die regeringsregulasies rondom die koronaviruspandemie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button