Blinde bejaarde by stembus te hulp gesnel
Sy is 'n engel op aarde en 'n samaritaan wat ryklik geseën sal word.
So gesels die blinde Sussanna Mazza (84), ‘n bekende gesig in die strate van Steiltes, oor die 23-jarige Sarah Spruyt wat haar op stemdag met ‘n onbaatsugtige gebaar by die stemlokaal by die Laeveld Buiteklub (LVCC) gehelp het.
Mazza, wat naby Kabouterland Kleuterskool woon, het vroeg op stemdag die sowat 1,5 km lange roete, gewapen met haar wit kierie, al met die besige Aurorastraat na die stemlokaal aangepak.
“Toe ek hier aankom, het ek sommer so in die bondel gevra of iemand my nie tot by die stemlokaal wil help nie. Die volgende oomblik het ek gevoel hoe iemand by my arm inhaak en sê sy sal help.”

Spruyt, ‘n oud-Hoërskool Nelspruit-leerder wat deesdae in Johannesburg as ‘n logistieke koördineerder werk, sê sy kon nie glo dat dié bejaarde tannie só ver geloop het om te stem nie.
Dit was Maandag kort na 07:00 toe Spruyt saam met haar ouers in die ry gestaan het. “Daar was sowat 100 mense voor ons in die ry. Die volgende oomblik hoor ek die tannie se stem wat om hulp vra.”
LEES OOK: Skoolloopbaan op glansryke wyse afgesluit
Omdat daar so baie mense in die ry was, het hulle die paadjie na die stemlokaal vol gestaan.
Spruyt moes Mazza langs die paadjie aflei en oor gras, klippe en boomwortels sukkel.
By die stemlokaal is die twee dadelik toegelaat om die vertrek binne te gaan. Die stemlokaal-personeel wou eers weet of sy (Spruyt) Mazza se assistent is.
“En natuurlik het ons ja gesê. Ek was verbaas toe die tannie vra of ek haar nie sal help om die vorms in te vul nie. Sy het my selfs gevra om namens haar die kruisie te trek.
“So tussen die gesels deur het ek een ding besef, niks gaan die tannie onderkry nie. En dit was vir haar baie belangrik om te stem.”
Mazza sê sy het jare gelede as jong vrou besef wat die waarde van stemmery was toe sy in Johannesburg as ‘n vrywilliger vir die destydse PFP gewerk het. Na die stemmery het sy gesê sy sal alleen regkom om weer huis toe te loop.
LEES OOK: Baba Ayden se naastes vier sy eerste verjaardag
“Die kind het egter daarop aangedring om al die pad saam met my huis toe te stap. Toe ons by my woonkompleks aankom, het die skuifhek so vinnig oop- en toegemaak dat ek nie eers behoorlik vasgestel het wie sy is nie.
Mazza se dogter, Wanda Cocks, het op Facebook gaan soek om die barmhartige samaritaan op te spoor.
In ‘n japtrap het die gemeenskap gehelp om Spruyt te identifiseer.
“Hierdie was werklik ‘n wonderlike ding wat in my lewe gebeur het,” het Spruyt aan Laevelder gesê.
“Wat ek weer eens by die dierbare tannie geleer het, is hoe onafhanklik gestremdes, en veral ‘n blinde persoon, ten spyte van hulle gebrek, voluit leef.”
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
