Local newsNews

Nostalgie na vervloë dae se algemene handelaars in Lydenburg

By H.L. Weeks in Kantoorstraat kon mense van die fynste linne tot 'n ploeg-skaar koop.

Harry Leonard Weeks was die oorspronklike eienaar. Hy is in Clomel, Ierland, gebore, en het as soldaat van die Royal Irish Guards na Suid-Afrika gekom met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog.
Sy regiment moes vanaf Port Elizabeth na Lydenburg te voet marsjeer.

Na die oorlog het hy besluit om Suid-Afrika sy nuwe vaderland te maak. Hy het eers ‘n hotelonderneming begin en later was hy die klerk van ‘n winkel, Butcher en Seuns.

H.L. Weeks het ook ‘n aantal jare vir wyle R. Schurink gewerk, wie se firma hy op 1 April 1923 oorgeneem het. Hy was 35 jaar lank met Muril Weeks (née Wilson) getroud.
Derrick Wilson sr. het later as vennoot by die winkel ingekoop en sy seun, ook Derrick, was die laaste eienaar. Die gebou was later Lydenburg se eerste SPAR en is nou ‘n meubelwinkel oorkant die ingang na Family Pick n Pay in Kantoorstraat.

’n Kwitansie vir skoolklere uit die ou Handelshuis in Lydenburg. Dit het maar R1 vir ‘n dag gekos.

Die plaaslike kunstenaar en historikus, Pieter Krügel, het onlangs weer sy herinneringe van jongseuntjiedae in die winkel vertel. Krügel het die winkel só beskryf: “As jy by die voordeur ingekom het, was daar ‘n lang loopvlak met geweefde grasmatte met groen strepe met die naam H.L. Weeks plek-plek ingeweef. Links en regs van die loopvlak was die damesafdeling. Daar was lang toonbanke en uitstalglasoppervlaktes. Die toonbanke het baie laaitjies gehad. Tolletjies gare, knope, knippies en spelde, rokspatrone en baie rolle materiaal, met drie tannies agter die toonbank. Sya Olivier, Chrissie Coetzee en Baby Burrouws was die vroue wat die klante welkom geheet het. Regs was die damesklere en daar het tannie Wilson (‘n nooi Weeks) so regop soos ‘n kers gesit. Sy het spierwit hare gehad. As jy dit durf waag om te hardloop of aan iets te vat, was daar moeilikheid. As jy verder ingaan, was daar drie breë trappe en regs was ‘n glaskamertjie. Daar het ‘n tannie met ‘n bril gesit. Die hele opset het soos ‘n klein treinstasie gelyk. Die hele plafon was vol spoortjies na elke toonbank en aan die spoortjies het ‘n koekepannetjie gehang wat die geld vervoer. Die tannie by die toonbank het die geld gevat en dan ‘n strokie geskryf, dit aan die koekepannetjie vasgeskroef en die geld en storie weer in die koekepannetjie teruggestuur. Die tannie het met ‘n mooi knoop aan ‘n ketting die veerbelaaide koekepannetjie met spoed teruggeskiet. Dit het op die spoortjie reguit na die glasstasie teruggegaan. Dit het met ‘n pieng-geluid teen ‘n fietsklokkie gestop. Die tannie met die bril het die geld uitgehaal en jou kleingeld teruggegee.

Só het die winkel in 1923 gelyk.

“So stap jy dan verder binne in die mansafdeling met skoene, dasse, pakke klere en visstokke. Draai jy links, is jy in die kruideniersafdeling met oom Tim Olivier en oom Dawid Kruger. Suiker,
bone, ens. is nog met skoppies geskep en op ‘n skaal afgeweeg. As jy baie soet was, kry jy ‘n suigstokkie. So tussen die rakke het jy altyd die twee Donovan-susters gekry. Agter was die store met ploegskare, spykers, planke, ens. en heel agter die kolewerf met berge steenkool,” het hy vertel.
H.L. Weeks het uit ‘n groot gesin uit Ierland gekom en beperkte skoolopleiding gehad. Hy het ruim tot die skole op Lydenburg bygedra.

Die poskoets oppad na Lydenburg. Veral voor die koms van die trein was Lydenburg ‘n belangrike pospunt vir die verspreiding van pos
na die Oos-Transvaal en naburige Portugees Oos-Afrika, vandag Mosambiek. Ook na die voltooiing van die oosterspoor het Lydenburg
talle posroetes in hierdie streke bedien.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button