Dis weer sulke tyd – BUCO Interlaer!
Vanjaar se BUCO Interlaer lê hierdie naweek voor, en Nelspruit Primary se bane beloof om gesonde kompetisie tussen hierdie Laeveld-skole op te lewer.

Die BUCO Interlaer 2023 is om die draai.
Die byeenkoms is geskeduleer om hierdie Saterdag, 18 Februarie, plaas te vind. Nelspruit Primary speel hierdie jaar gasheer aan Laerskool Laeveld, Nelspruit, Bergland, Witrivier, Barberton en Lydenburg.
Die dag was oorspronklik beplan om op Hoërskool Bergvlam se gronde plaas te vind, maar weens die velde wat deurdrenk is met water en dus sukkel om te dreineer, is dit na Nelspruit Primary se eie sportvelde verskuif.
Werner van Tonder, Nelspruit Primary se hoof, sê dit was seker een van die moeilikste besluite wat hy in ‘n lang tyd moes neem. Vir hom was dit ‘n geval van aangaan of uitstel.
Laevelder het by die plaaslike skole uitgevind oor op wie ons ‘n ogie die naweek kan hou.
Nelspruit Primary
Die gasheerskool sien uit om almal tydens vanjaar se BUCO Interlaer by hulle te verwelkom en is reg om ook hulle staal op die baan en veld te wys.
Verlede jaar se junior victrix ludorum, Joel Akum, neem in die 60 m en 80 m vir seuns o. 9 deel om sy titel te probeer verdedig, terwyl Zenzo Manana hoop om in die 100 m- en gewigstootitems uit te blink.
Aan die einde van die dag kan die toeskouers maar gerus hulle oë oophou vir Primary se o. 9-, o. 12- en o. 13-aflosspanne. Aflos is altyd ‘n hoogtepunt en beloof om die dag op ‘n goeie noot af te sluit.

Laerskool Laeveld
“Laerskool Laeveld is slaggereed vir Interlaer 2023,” het André Barnard, die skool se sporthoof, gesê.
Laeveld se naellope, velditems, middelafstande en aflosse is iets om na uit te sien. Dié skool beloof ook om ‘n indrukwekkende vertoning tydens die optogte te lewer, en sê almal moet maar uitkyk vir die “rooi en blou masjien”.
Die skoolhoof, Niël Jacobs, het in ‘n boodskap aan sy atlete gesê: “Laeveld, ons is alreeds so trots op julle elkeen. Onthou dat jy die horlosie en maatband moet klop. Fokus daarop en vergeet van die res.”
Die skool meen dat ieder en elk van hul atlete maar gerus dopgehou kan word.

Laerskool Nelspruit
Die jong Alizé Engelbrecht het by die Nellies se interhuis vroeër vanjaar reeds beïndruk toe sy geweldige hoë punte op die ASA-tabel aangeteken het. Alizé hoop om haar plek op die podium in die 80 m-, 100 m- en 70m-hekkies vir dogters o. 10 te verseker.
Jamie Doncaster is nog ‘n naam om te onthou. Hy gaan Saterdag ondermeer aan die 80 m- en 200 m-hekkieswedlope, sowel as verspring en hoogspring, seuns o. 13, deelneem.
Celeste Classen het tydens die interhuis eerste plekke in die dogters o. 13-gewigstoot en -diskusgooi verseker met afstande wat onderskeidelik tussen 4 m en 8 m verder as haar naaste kompetisie was. Sy sal beslis hoop om dieselfde gapings tydens die jaar se interlaer te handhaaf.
Op die baan hoop die Nellies dat Marike Wasserman vir hulle podiumplekke in die dogters o. 13-100 m en 200 m-naellope, asook 75 m- en 150 m-hekkies kan inpalm.

Laerskool Bergland
Bergland se o. 13-aflosspanne, beide seuns en dogters, hou huidiglik die rekord op Laerskool Nelspruit se veld. Die seuns het die rekord van 42.90
sekondes na 42.06 sekondes verbeter, waar die dogters die rekord van 44.97 na 43.88 kaf gedraf het.
Chenade Botma (o.13) is by die byeenkoms gehou by Laerskool Laeveld as die beste baanatleet van die dag aangewys en was ook die victrix ludorum. Sy was ook tydens ‘n byeenkoms in Malelane as die beste dogters naelloper aangewys, sowel as die beste dogters hekkie atleet en die beste in ‘n spring item (verspring). Sy het ook daar met die louere van senior victrix ludorum weggestap. Chenade hardloop tans haar persoonlike beste van 12,81 sek in die 100m.
Sy het ook tydens die Westvaal byeenkoms by Laerskool Nelspruit die 200m rekord verbeter van 27.75 sek na 26.94 sek.
Die Bergies het ook atlete wat dopgehou kan word in die verspringput, oor die hoogspringlat, in die naelope en met die gewigte in hand.

Laevelder wil hiermee al die deelnemende skole sterkte met die dag toewens, en sien daarna uit om te deel in hulle sukses!
