Laerskool Nelspruit spog met 11 atlete wat kwalifiseer vir vanjaar se SA’s
'n Allemintige 41 atlete van Laerskool Nelspruit het die afgelope naweek as deel van die Ehlanzeni-atletiekspan aan die Mpumalanga-atletiekkampioenskappe deelgeneem.
Die Mpumalanga Atletiekkampioenskappe (Mussa) vir laerskole is die afgelope naweek in Secunda aangebied.
Die Nellies het hul spiere behoorlik gebult en die medaljes ingepalm. Volgens ‘n mediaverklaring van die skool, was sy kinders se gedrag op en van die veld af iets noemenswaardigs, en het dit beslis die Nellie-waardes uitgebeeld.
Die Nellies spog met 41 atlete wat hul skool as deel van die Ehlanzeni-atletiekspan by die Mussas gaan verteenwoordig het. Die atlete het altesaam 19 medaljes verower, waarvan agt goud, ses silwer en vyf brons was.
Een van die Nellie-atlete, Alizé Engelbrecht, het bonop met ‘n rekord weggestap toe sy die 70 m-hekkiesrekord vir dogters o. 10 verbeter het. Sy het die rekord vanaf 12,35 sek. tot 11,86 sek. verbeter en het 1 000 punte op die ASA-tabel ontvang.
Hier volg nog uitstaande prestasies bo 800 ASA-punte:
• Roelf Winterbach stoot 11,46 m met die gewigstoot vir seuns o. 11 (803 ASA-punte)
• Jamie Doncaster hardloop 11,23 sek. met die 80 m-hekkies (927 ASA-punte) en hy het onder 12 sekondes oor die 100 m-lyn gehardloop
Hy het 11,74 sek. op die 100 m behaal, wat uitstekend is vir o. 13. Jamie het ook in die 200 m-hekkies 829 ASA-punte behaal
• Marike Wasserman hardloop 11,83 sek. in die 75 m-hekkies (876 ASA-punte) en 30,56 sek. in die 200 m-hekkies (834 ASA-punte)
• Celeste Classen stoot 10,07 m met gewigstoot vir dogters o. 13 (828 ASA-punte)
• Aimee Dippenaar hardloop 12,84 sek. in die 70 m-hekkies vir dogters o. 10 (898 ASA-punte)
• Jayde Betts hardloop 13,47 sek. in die 100 m (803 ASA-punte).
Die volgende 11 Nellie-atlete het vir die SA’s gekwalifiseer: Aimee Dippenaar, Alizé Engelbrecht, Celeste Classen, Dandré Louw, Jade Betts, Jamie Doncaster, Leander Louw, Liam Classen, Marike Wasserman, Roelf Winterbach en Jessica Badenhorst.
Die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe vind vanaf 19 tot 21 Maart in Pietermaritzburg plaas.
* Die artikel is sedertdien aangepas
Jessica is aanvanklik nie ingereken nie, maar is onlangs ook tot die Mpumalanga-atletiekspan toegevoeg. Sy gaan die provinsie met hoogspring by die SA’s verteenwoordig.