Innibos oortref verwagtinge in alle opsigte
Alhoewel dit nie so groot soos ander jare was nie, het Innibos steeds beïndruk met die getalle wat die fees na die Laeveld toe gelok het.
“Moeilik, maar fantasties.”
Dit is hoe Sandra Jacobs, bemarkings- en mediabestuurder van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, na die afgelope fees verwys het.
“Dit was ’n ongelooflike moeilike fees om aanmekaar te flans. Waarskynlik die moeilikste ooit. Voor die toeslaan van die Covid-19-pandemie het ons oor die jare ’n sekere standaard opgebou en gehandhaaf. Ons grootste wens, nie net vir onsself nie, maar ook vir feesgangers, was om op dié standaard voort te bou. Maar ons het ook geweet dit gaan baie, baie moeilik wees,” gesels sy.
LEES OOK: IN FOTO’s: Innibos Huisgenoot Afskopkonsert het duisende in vervoering
Dit het egter hulle grootste verwagtinge oortref. “Ons was in alle opsigte aangenaam verras.”
Sy skryf dit nie net toe aan die ongelooflike toewyding van die Innibos personeel “wat letterlik hulle gaaie afgewerk het” nie, maar ook die lojale feesgangers wat soos in die verlede in hulle hordes na die Laeveld gestroom het.
Volgens haar was die totale kaartjieverkope vir die hoofterrein asook ook die buitevertonings ’n katspoeg meer as 62 000. Tydens die laaste fees was daar bykans 100 000 besoekers. Jacobs sê een aspek wat ook ’n impak op die feesbesoeke gehad het, was dat dit hierdie jaar een dag korter was. Donderdagaand was daar 12 000 besoekers by die hoofverhoog, Vrydagaand 17 000 en Saterdagaand 25 000.
“Ten spyte van die laer besoekerstal, het ons tog ons begrote inkomste oorskrei.”
Wat stalletjiehouers in die Bosmôl betref, sê Jacobs daar was beslis ’n beduidende daling in verkope. “Kos-, koeldrank-, lekkernye-, peuselhappies- en drankstalletjies het oudergewoonte uitstekend gevaar. Die grootste probleem wat Bosmôllers gekortwiek het, was die besteebare inkomste van feesgangers. Hulle moet hekgeld betaal, kos koop, kinders vermaak en nog tussen ook peuselgoed koop. Daar is dan net eenvoudig nie geld om op luukshede te bestee nie.”
Sy sê egter die fees se borge en kunstenaars wat opgetree het, was baie gelukkig met die omvang daarvan.
LEES OOK: IN FOTO’S: Die Innibos Jacaranda FM-konsert bied eersteklas ekstase
Die twee buitevertonings wat die beste gevaar en bykans al hulle sitplekke uitverkoop het, was Reünie met Frank Opperman en Kamphoer met Sandra Prinsloo.
David Mabunda, pas verkose president van die Kruger Laeveld Toerisme en Sakekamer (KLCBT), sê hulle as sakesektor is in hulle noppies met die fees. “Die fees het weer eens gewys die mense is ‘vermaakverhongerd’ as gevolg van die vakuum wat die Covid-pandemie veroorsaak het. Mense het landswyd afgetrek Laeveld toe vir die fees. Daar was selfs besoekers van Brittanje en Amerika wat spesiaal gereis het om die fees by te woon.”
Linda Grimbeek, die bedryfshoof van die KLCBT, sê die ekonomiese impak wat die fees op die Laeveld gehad het, was vir hulle ook bo verwagting goed. “In die verlede is daar na raming tussen R90 miljoen en R100 miljoen in die ekonomie ingepomp. Ons het verwag dat die inkomste met sowat 50% sou daal. Voorlopige syfers dui daarop dat die ekonomiese inspuiting tussen R50 miljoen en R55 miljoen kan wees.”
