Laeveldse gholfspeler leef daagliks sy droom van internasionale roem
Die gholfsetperke is waar hy wil wees, maar hy sou nie sy drome kon najaag as dit nie vir die span agter hom was nie.
Lui die naam Thriston Lawrence dalk ’n klokkie?
Ja man, die voormalige Laevelder wat nou professioneel gholf speel en wat selfs saam met van die wêreld se bestes op internasionale vlak afslaan.
Die jong, opkomende Bernard Jansen van Vuuren (17) is ook ’n trotse Laevelder in murg en been, en mag dalk net een van die dae in Lawrence se voetspore volg.
“My droom al vir baie lank is om op die European Tour te speel en ook by die DP World Tour aan te sluit,” vertel Bernard.
Ja, kyk, hy praat reeds nes Lawrence.
Bernard het vir die eerste keer ’n gholfstok opgetel toe hy maar net twee jaar oud was en het van kindsbeen af saam met sy oupa die setperke van Mbombela Gholfklub verken. Dis ook hier waar hy deesdae ’n lid is.
Bernard skerts ook dat hy een van sy beste houe nóg op die gholfbaan by dié klub gespeel het! Hy het op die derde gaatjie van die baan sy hou perfek beplan, alle faktore in ag geneem, en met ’n bietjie guns dit reggekry om ’n kolhou op ‘n sessyfer-putjie te speel.
LEES OOK: Mbombela woman dies following car crash
In Mei vanjaar is Bernard as een van die beste gholfspelers in die Laeveld gereken toe hy die trofee by die Laeveld Junior Gholf Kampioenskappe gelig het, maar sy prestasies op die baan strek wyd.
”Die grootste kompetisie waarin ek tot dusver gekompeteer het, is die Global Junior Golf Internasionals wat by Rondebosch Golf Club in die Kaap gespeel is. Ek het in die top 20 van die kompetisie geëindig.” Maar hiermee saam skerts hy ook dat die grootste prys vir hom altyd die persoonlike tevredenheid na elke goeie kompetisie sal wees.
Wat die toekoms vir Bernard inhou? Wel, dis eenvoudig: gholf, gholf en nogmaals gholf.
LEES OOK: Innibos oortref verwagtinge in alle opsigte
As alles mooi uitwerk, sal hy graag binne die volgende twee jaar binne die top 30 spelers in die land gelys wil word, daarna volg drome om in die Junior- en Premier IPT-toernooie te speel en ook sy provinsie met trots op die baan te verteenwoordig.
Die droomlysie stop egter nie hier nie.
“Om eendag die nommer een gholfspeler in die wêreld te wees is ook beslis ’n droom, en dan natuurlik om die Green Jacket Masters (by die Augusta Nasionale Gholfklub in Amerika) te wen. My ma se WhatsApp-status is nie verniet Magnolia Lane nie!” sê hy met ‘n knipoog.
LEES OOK: Sunbirds fly high in national netball league
Die gesegde lui mos: “As jou drome jou nie bangmaak nie, is hulle nie groot genoeg nie.” Bernard droom beslis groot en is klaar op pad om sy drome te bereik, maar dít kan hy egter nie alleen doen nie.
“Dit is vir my ‘n hoogtepunt en voorreg om my droom elke dag te kan uitleef, en dat ek ook elke dag uit my foute kan leer. Ek het ’n amazing span wat agter my staan. My twee afrigters, Dalton Viviers en Edwin Compton, my mental coach, Shaun Landsberg, en dan ook natuurlik my ma, ouma en oupa.”
Bernard se beste brokkie raad aan ander jong gholfspelers met groot drome is om altyd nederig op en van die baan af te stap en nooit toe te laat dat een slegte dag al die dae voor jou bepaal nie.


