Nuwe toernooi bring binnekort hope rugbyaksie na die Laeveld
Die Airlink Cup is geskeduleer om in November te begin, en sal op 2 Desember ’n draai in Mbombela kom maak wanneer die Airlink Pumas, Griffons, Griekwas en Luiperds sake in die beker- en skildeindstryde gaan uitspook.
Die vier grootste nie-franchise-rugbyunies in Suid-Afrika gaan binnekort in ‘n splinternuwe toernooi kragte teen mekaar meet.
Dit is is deur onder andere die Airlink Pumas se bestuurspan, in samewerking met hul eweknieë van die Griekwas, Griffons en Luiperds, op die been gebring.
Heel gepas word dié vierhoekige toernooi ook dus die Airlink Cup genoem.
LEES OOK: Mr & Miss Bergvlam 2023 crowned
Volgens die hoofbreier van die Airlink Pumas, Jimmy Stonehouse, is hierdie toernooi ‘n móét en al vir lank in die pyplyn. “Dit is eintlik Marius [Van Rensburg] se babatjie; hy het daaraan gedink,” vertel Stonehouse. “Ons pre-season is só lank, ons wil so ‘n bietjie rugby inwerk voor die seisoen begin terwyl die URC nog aan die gang is. Ook sodat ons ons nuwe talent wat in Oktober by ons aanmeld, kan toets, en kyk hoe hulle by die game plan inval en so aan.”
Die toernooi skop op 4 November in Welkom af, met die gedugte tweestryd tussen die Curriebeker-grotes, die Airlink Pumas en Griekwas. Daardie selfde middag pak die tuisspan, die Griffons, die Luiperds van Potchefstroom in die hoofwedstryd van die dag aan. Die vier unies maak die daaropvolgende naweek ‘n draai in Potchefstroom (11 November) en daarna ook in Kimberley (28 November).
LEES OOK: Hoërskool Nelspruit stel nuwe leiers vir 2024 bekend
Maar, Laevelders, wees gerus. Die eindstryd van die Airlink Cup kom Mbombela toe. Witwarmrugby wag op 2 Desember op ons wanneer beide die skild- en bekereindstryde by Mbombela Stadion beslis sal word.
“Die toernooi is vir ons toeskouers ook. Ons wil vir hulle die geleentheid gee om ‘n bietjie rugby te kom kyk,” het Stonehouse bygevoeg. Hy nooi die Pumas-ondersteuners uit om die stadion in Desember vol te pak. “Dit gaan ‘n ongelooflike lekker geleentheid wees en ons sien uit om óns mense in hulle pienk daar te sien!”
Bo en behalwe die geleentheid vir die spelers en ondersteuners van die span, is die toernooi ook ‘n uitstekende blootstellingsgeleentheid vir die borge van die Airlink Pumas. “Dankie aan een en elke borg, ongeag hóé groot of hóé klein,” kom die waardering van Stonehouse.
Dié wat nog betrokke wil raak, kan met hom in verbinding tree. “Ons kan ‘n lekker pad saam stap. Dis goeie blootstelling, dis goed vir die Laeveld. Kom ons skep saam iets wat vir die unie en vir ons dorp iets kan beteken.”
Dit raak net beter:
• Nóg ‘n gasspreker gaan die Pumas se sakeontbyt op 27 Oktober meemaak. Hy het in 1999 sy debuut vir die Springbokke gemaak en dié span by beide die 2003- en 2007-rugbywêreldbekers verteenwoordig. Hy is tans deel van die SuperSport-span wat jou ingelig hou tydens die rugbyseisoen. Dis niemand anders as Breyton Paulse nie!
Paulse sluit om 08:00 by Frans Steyn by die Emnotweni Arena aan om hul insig te deel rondom die wêreldbeker in Frankryk.
Tafels word reeds links en regs bespreek, so maak seker dat jy jou plek boek.
Besprekings kan by marketing@pumas.co.za gemaak word. Dit kos R2 000 per tafel (sit 10 persone).
