Bekoring van Ohrigstad se vallei laat Steve Hofmeyr telkens terugkeer
Laerskool Ohrigstad het hierdie bekende sanger uitgenooi as deel van 'n fondsinsamelingsprojek.
Laerskool Ohrigstad het hierdie bekende sanger uitgenooi as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek.
Steve Hofmeyr was vol lof vir die pragtige vallei waarin Ohrigstad geleë is toe hy die dorpie behoorlik aan die brand gesing het.
Hierdie gewilde sanger, liedjieskrywer, outeur en akteur het op 29 September by Mahela Pakhuis ‘n uithalervertoning ten bate van die Laerskool Ohrigstad aangebied.
Na die vertoning het Hofmeyr op sosiale media met sy altyd pittige humor die skool bedank dat hulle hom uitgenooi het.
“Daar is iets in hierdie vallei wat my altyd laat terugkom. Hierdie skool is puik en nooi my asseblief weer. Die paaie soontoe is ‘bedenklik’, indien nie lewensgevaarlik nie,” het Hofmeyr geskerts.
Maar ten spyte van die ‘bedenklike’ paaie, het die skare gelag en geluister na Hofmeyr se goue oues en staaltjies uit sy jare in die musiekbedryf.
Die skool bedank Mahela Pakhuis en elkeen wat die geleentheid bygewoon het. Laerskool Ohrigstad het gesê die plaasgemeenskap en omliggende bure het omtrént lekker saam gekuier.
