Yolande Korkie kom deel haar ervaring as gyselaar met Lydenburg
Nadat sy uitgevind het haar man, Pierre Korkie, is vermoor voor sy vylating in Jemen, het Yolande Korkie in haar boek, 558 Dae, die reis na vryheid en die sin in swaarkry neergepen.

’n Vrou met ’n unieke verhaal wat deur haar geloof as gyselaar oorleef het, kom haar ervaring met Lydenburg deel.
Yolande Korkie en haar man, Pierre, is op 27 Mei 2013 deur Al Kaïda ontvoer en as gyselaars geneem. Hulle het toe in Taiz, Jemen, gebly.
Sy is agt maande ná die ontvoering vrygelaat met behulp van die noodleningsorganisasie Gift of the Givers.
Lees ook: Twee verdagtes vas ná Megan Griesel-moord
Pierre is op 6 Desember 2014 doodgeskiet, 24 uur voor hy vrygelaat sou word.
Sy vertel in haar boek, 558 Dae, die verhaal. Sy en haar kinders moes toekyk hoe Pierre se verseëlde kis met sy oorskot van ’n Amerikaanse militêre vliegtuig op Suid-Afrikaanse bodem laat sak word. Yolande sê sy het nooit besef watter keuses sy sou moes maak om vorentoe te gaan vir haar en haar kinders nie, ten spyte van die verlede nie.”
Sy moes vorentoe beur ten spyte van alles wat die toekoms kon inhou, en sy moes vrede soek en hoop in die proses vind.
In die boek en ook tydens haar getuienis vertel sy haar en Pierre se liefdesverhaal.
Sy deel ook ’n intense getuienis wat spreek van respek, onmoontlike keuses, angs, oorlewing, raaiselagtige vrae, geestelike waarhede en humor.
Sy kom op 11 November as gasspreker by die NG Lydenburg-Suid se getuienisoggend optree en sal ook die volgende dag, 12 November, tydens die kerk se erediens om 09:00 met die gemeente gesels.
Haar tema tydens die Saterdag is ‘Wanneer swaarkry sin kry’.
Die funksie begin om 09:30 vir 10:00 by die NG Lydenburg-Suid en kaartjies beloop R75 per persoon. Daar is steeds plek beskikbaar vir hierdie oggend, wat beloof om inspirerend, en soveel meer te wees. Die praatjie vind in die kerk self plaas.
Dit sluit ligte verversings in. Skakel 081 801 5868 om kaartjies te bespreek. Dit sal ook by die kerksaal se deure beskikbaar wees met kaartfasiliteite.
Korkie se boek, 588 Dae, sal te koop wees tydens die teepouse.Gaste is welkom om nader met haar kennis te maak en moontlik ‘n paar boeke aan te skaf terwyl almal verversings geniet.
