200-losprys vir dié ‘verdagtes’ agter tralies op Lydenburg
Ondersteun Vrydag 24 November hierdie unieke fondsinsameling van die Lydenburg Dienssentrum vir Bejaardes.
Om ‘n geliefde oupa of ouma weer hulle vryheid te gee in Lydenburg, gaan op 24 November maar ‘n skamele R200 kos.
Verlede jaar was die eerste Gryp ‘n Ouma of Oupa by die Lydenburg Dienssentrum vir Bejaardes ‘n heerlike fondsinsamelingsdag. Die bejaardes wat deelneem word gearresteer, natuurlik net spottenderwys en darem nie deur die polisie nie. Hulle kinders en kleinkinders moet hulle dan weer loskoop tussen 09:00 tot 11:00.
Lees ook: Mikpunt van minimum 300 emmers vir behoeftiges in Lydenburg
Sakeondernemings is ook welkom om van hulle eienaars of bestuurders te laat toesluit; elke R200 word verwelkom. ‘n Baie bekende apteker op die dorp is reeds op die verdagtelys en sy personeel het sy losprys gereed.
Hierdie geleentheid is een van die dienssentrum se gewildste dae en verskaf groot genot. Skakel Shaunette Erasmus by 084 208 0919 of 013 235 3875 vir meer inligting, en hou jou R200-losprys byderhand.
