Local news

Skok en ongeloof in Mbombela en Hoedspruit ná dubbelmoord op Kersdag

Die Nelspruit Speurtak is druk besig ná Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius in Steiltes vermoor is.

Die dubbelmoord van die skoonheidskundige en sakevrou, Ilonka Craucamp, en Shawn Pretorius, ’n sakeman en PostNet-eienaar, het wye reaksie ontlok en skokgolwe deur die gemeenskappe van Mbombela en Hoedspruit gestuur.

Craucamp en Pretorius se lyke is op Kersdag in ’n huis in Laserstraat, Steiltes, gevind. Die omstandighede rondom die moorde is nog nie bekend nie, maar die Nelspruit Speurtak is druk besig met die ondersoek.

Op ’n WhatsApp-veiligheidsgroep wat Steiltes bedien, het inwoners van Laserstraat om 01:49 op Kersoggend alarm gemaak oor drie mans wat toegang tot ’n woning in Enterprisestraat probeer verkry het. Nadat daar alarm gemaak is, is hulle glo by Laserstraat af.

Om 02:15 het ’n tweede inwoner op die groep geskryf: “Gunshots in Laser.

Lees ook: Two people found murdered in Steiltes on Christmas

Hierna het twee sekuriteitsmaatskappye laat weet dat hulle op pad was om ondersoek in te stel, en kort daarna reageer met:

There were suspects in Laser Street. Response patrolled the area and confirmed that all was clear. They couldn’t find the suspects; they fled the scene as soon as response vehicles arrived. Response will show visibility in the area.

’n Inwoner wat met Laevelder gepraat het, het gesê hulle was nie die enigstes wat die skote gehoor het nie, en het verder genoem dat drie mans kort ná die voorval in hulle agtertuin verby hul kamervenster gehardloop het. Ook hulle het die alarmknoppie van hul sekuriteitsmaatskappy gedruk.

Gister het Hi-Tech Nelspruit se besturende direkteur, Frank Swanepoel, aan Laevelder gesê hulle het laatmiddag op Kersdag ’n telefoniese versoek ontvang om te gaan kyk of daar voertuie by die Laserstraat-woning was, en dat hulle toe laat weet het dat daar inderdaad ’n Toyota-bakkie in die oprit was.

Om 21:00 het hulle ’n tweede oproep ontvang wat versoek het dat Hi-Tech weer na die perseel moet gaan om ondersoek in te stel.

Die reaksie-offisier het dié keer die erf betree en twee oop deure, ’n skuifdeur en ’n oop voordeur, gemerk, maar beide se traliehekke was toe en gesluit.

Die huis in Laserstraat, Nelspruit, waar die moord plaasgevind het.

By nadere ondersoek het die offisier deur die oop sitkamerdeur twee mense op die vloer sien lê en probeer om met hulle te kommunikeer. Toe daar geen reaksie was nie het hy teruggestaan, die polisie ontbied en die woning beveilig tot hulle opgedaag het.

Craucamp en Pretorius se liggame is op die sitkamervloer met skietwonde ontdek.

Die polisie het op ’n 9mm-pistool met 16 patrone in ’n holster beslag gelê. Beide Pretorius en Craucamp was in die proses om van hulle eggenote, onderskeidelik Melane en Jaco, te skei. Die egpare het vir jare saam in Hoedspruit gewoon en was vroeër huisvriende.

Craucamp se onderneming, Luvit Hoedspruit – Clothing, Cosmetics, Accessories and Gift Boutique, het in November ook by Witrivier Crossing oopgemaak. Sy het bietjie meer as ’n week gelede haar pa aan die dood afgestaan.

Sy was ’n bekende in perdrykringe, en haar Facebook-bladsy bevat vele inskrywings oor die gesin se vakansies die afgelope paar jaar. Jaco het grondverskuiwings gedoen en is ’n bekende in Hoedspruit se plaaswagkringe.

Die egpaar het twee dogters.

Ilonka en Jaco Craucamp in gelukkiger dae. Foto: Facebook.

Shawn en Melane is die eienaars van die PostNet op Hoedspruit, en in Augustus het hulle aangekondig dat hulle ook die PostNet by Crossing Shopping Centre in Mbombela gekoop het.

Die egpaar het twee seuns.

Vriende en familie het op Facebook hul skok en afgryse oor die gebeure gedeel.

Op Ilanka se blad skryf Nadine Marais:

So baie regrets oor hierdie dag! Moes jou net nog bietjie meer gesels het, jou stywer gedruk het! Nooit sou ek kon raai dat dit ons laaste saamkuier is! My hart is in stukkies, Ilonks! Ons het soveel goeie tye gehad, saam mawees aangepak met Lielie en Boetie… ek sal jou nooit vergeet nie! Lief jou altyd.” Ettiene Venter skryf: “RIV my niggie,” en Stephanie Hammann skryf: “RIP, Ilonka Craucamp, dit was ’n baie groot skok toe ons die nuus kry. Bitter baie sterkte aan jou familie en gesin.”

Shawn Pretorius en sy vrou Melane in gelukkiger dae. Foto: Verskaf.

Op Pretorius se Facebook-blad skryf Inez Ferreira:

Rest in peace, Shawn Pretorius. Very sad to hear of your passing. Auntie Peggy and Uncle Piet, our hearts go out to you.” ’n Familielid, Leonard Kitshoff, skryf: “Jy sal gemis word, Neef. Net God weet wat gebeur het daai dag, Hy sal sorg dat geregtigheid sy pad volg. Sterkte aan Melane en die kinders en familie.

Henriette Jackson skryf:

Wat ’n skok, ek kan nou nog nie glo jy is so weg uit ons lewe nie, neef, hierdie is ’n baie hartseer dag, jy gaan baie gemis word. Rus sag. Baie sterkte aan Melane, Xavier, Divan en die family.”

Laevelder het telefonies na Jaco Craucamp uitgereik, wat ingestem het om met die koerant te gesels nadat hy vandag verklarings afgelê het.

Teen die ter perse gaan was hy nog nie bereikbaar nie, maar die koerant sal opvolg.

Met Laevelder se besoek aan die huis vanmiddag was daar slegs ’n Hi-Tech-voertuig met ’n reaksielid oorkant die huis geparkeer, en die Toyota-bakkie het in die voortuin gestaan.

Laatmiddag was daar ’n aantal voertuie buite die huis geparkeer.

 
Back to top button