Laeveld Media betreur die afsterwe van joernalis
‘n Steunpilaar van Laeveld Media se ontydige afsterwe word deur die gemeenskap en haar kollegas betreur.
Die ‘spertyd’ vir Michelle Boshoff word met groot leedwese deur Laeveld Media betreur. Boshoff was ‘n joernalis by Steelburger/Lydenburg Nuus, Laevelder se susterkoerant.
Boshoff is kort voor Kersfees aan mediese komplikasies oorlede. Sy was ‘n steunpilaar by Steelburger, en haar artikels was ook dikwels in Laevelder gepubliseer.

“Michelle was ‘n bekende mediapersoonlikheid op Lydenburg, wat voorheen ook vir die Panorama Weekblad geskryf het. Haar ma se familie, die Koelemans, was ook ou inwoners van die dorp. Sy sal veral onthou word vir haar kennis van en belangstelling oor die geskiedenis van Lydenburg en sy omgewing,” het Marius Bakkes, voormalige buitestreekskoerantredakteur van Laeveld Media, gesê.
Sy laat ‘n broer agter.
Buks Esterhuizen, Laeveld Media se streeksbestuurder, betuig namens die bestuur van die koerantgroep en al sy kollegas sy innige meegevoel.
“Dit was met groot hartseer dat Laeveld Media verneem het van Michelle se ontydige afsterwe. Mag die familie in hierdie hartseertyd berus vind. Michelle was werklik ‘n steunpilaar van een van ons publikasies, naamlik Steelburger/Lydenburg Nuus. Sy het oor haar gemeenskap met integriteit beriggewing gedoen en sy laat ‘n leemte in ons koerantgroep. Sy sal onthou word vir haar ‘on point’ verslaggewing wat bygedra het dat haar gemeenskap altyd op die nuutste verwikkelinge van nuus is. Sy sal gemis word.”
Laeveld Media-redakteur Stefan de Villiers sal haar onthou vir haar toewyding.
“Ons as redaksie is hartseer oor die verlies van ons kollega en vriend, wat die gemeenskap met toewyding en professionalisme gedien het. Michelle was ‘n talentvolle joernalis – vrygewig en goedhartig. Sy sal gemis word deur almal wat haar geken het en haar werk waardeer het. Sy was nie net ‘n joernalis nie, maar ‘n pilaar van die Lydenburg-gemeenskap.”
Haar kollega van byna twee jaar, die joernalis Gilbert Motseo, het gesê:
“Your passing has left the whole of the Steelburger/Lydenburg News team devastated. I will miss the Monday morning diary sessions we had, and the laughs and celebrations after every completed newspaper. Michelle was a consummate professional, but more importantly, she was a profoundly decent and kind woman. May your soul rest in peace. Til we meet again, my friend.”
Bertus de Bruyn, digitale inhoudskepper van Laeveld Media, onthou haar soos volg:
“Jou stem, altyd daar… en gereed om nuus aan te pak. Ek en jy kon lekker na spertye op WhatsApp gesels, en jy het altyd seker gemaak niks is verkeerd met jou stories vir aanlyn nie. Ek sal jou sprankelende oë onthou tydens ons jaareindafskeid, jou glimlag en daardie lekker ‘slush’ wat ons saam geniet het, sal ek nooit vergeet nie. Dit was ons eerste ontmoeting van aangesig tot aangesig. Minwetende dit was die laaste. Dit was altyd net stemme oor die foon vir ‘n paar dae nog daarna, en nou is jy weg en jou stem is stil. Jou ink is nou droog. Rus in vrede, my kollega, geen meer spertye nie, en jy is nou in die bed van rus.”
Haar heengaan het ook wye deelname en huldeblyke in plaaslike sosiale media uitgelok van die gemeenskap wat haar sal onthou.
Jacques Lombard onthou haar soos volg:
“So hartseer om te verneem van Michelle Boshoff, so baie stories wat sy geken het, altyd deel van alles wat in Lydenburg gebeur het. Wat ‘n verlies vir die gemeenskap van Lydenburg asook vir die koerant! Michelle, jy gaan gemis word. Dankie vir jou professionalisme, eerlikheid as joernalis en vriendelikheid! So is dit die einde van nog ‘n mooi storie. Mag jy vir lank nog onthou word.”
‘n Gedenkdiens sal Vrydag 12 Januarie om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk in Viljoenstraat in Lydenburg plaasvind.
Laeveld Media versoek dat diegene wat haar onthou iets vir ‘n gesamentlike gedenkplasing in die eerste uitgawe van Steelburger vroeg in die nuwe jaar sal skryf.
Stuur jou bydrae na marius@lowveldmedia.co.za
