Hiér is Mpumalanga se heel beste skool
Groot opwinding heers in die Laeveld na hierdie topmatrikulant en Hoërskool Nelspruit toptoekennings van die Departement van Onderwys ontvang het.
In ‘n groot oorwinning vir Hoërskool Nelspruit het die matriekklas van 2023 ‘n uitmuntende 100%-slaagsyfer in die Nasionale Seniorsertifikaatmatriek-eksamens behaal.

Dit is ‘n verbetering op die skool se 2022-slaagsyfer van 99.6%. NHS spog ook met die beste matrikulant in die provinsie, Niandi Coetzee (18).

Die skool is aangewys as die beste presterende hoërskool in Mpumalanga. NHS het met 24 ander hoërskole gekompeteer wat ook 100%-slaagsyfers behaal het. Hy het met sy 229 gr. 12-leerders as die wenners uit die stryd getree. Hulle het altesaam 282 onderskeidings in verskeie vakke behaal en 100% tersiêre toelating, waarvan 89.5% van die leerders universiteitstoelating en 10.5% diplomatoelating behaal het. Verder het die leerders ‘n graadgemiddeld van 65.5% behaal.
Die skool spog ook met ‘n leerder wat nege onderskeiding ontvang het, een wat agt onderskeidings behaal het, 10 wat sewe onderskeidings ontvang het, ses leerders wat ses onderskeiding ontvang het, sewe leerders wat vyf onderskeidings behaal het en vyf leerders wat vier onderskeidings behaal het.
Lees ook: Oud-Laevelder kook dat die stof so staan by Dakar
Die Departement van Onderwys het die toekening aan Hoërskool Nelspruit se skoolhoof, Johan Hattingh oorhandig. Die toekeningsgeleentheid is op 19 Januarie by die Universiteit van Mpumalanga gehou.

Niandi en haar vriendin, Kaylee Ferreira, is aangewys as deel van die provinsie se top 10. Hulle het albei onderskeidings in al sewe hulle vakke behaal, insluitend wiskunde, fisiese wetenskap en rekeningkunde. Niandi, die LVR 2023 se president, het ‘n splinternuwe voertuig vir haar prestasie as topleerder ontvang. Sy sê die sleutel tot sukses is goeie tydsbestuur en ‘n gebalanseerde lewe. “Ek het tyd saam met familie deurgebring, sosiale geleenthede by die skool bygewoon en aan sport deelgeneem.”

Lees ook: Kaycee staan reg vir die jaar by NHS
Sy gaan vanjaar BCom rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. Niandi sê dat die matriekklas van 2024 hulle matriekjaar ten volle moet geniet. Beide van die leerders het volle studiebeurse vanaf die Mpumalanga Provinsiale Regering ontvang.

Hattingh skryf NHS se sukses toe aan spanwerk tussen passievolle onderwysers en toegewyde leerders. Hy is dankbaar vir die Department van Onderwys se deurentydse ondersteuning en hulle moeite om die integriteit van die Nationale Seniorsertifikaat te beskerm.
