Nellies se juniors seëvier by tennistoernooi
Hoërskool Nelspruit se tennisspanne het hulle goed van hul taak gekwyt by die onlangse Menlo Mixit Tennistoernooi by Sun City. Die juniors het ’n briljante eerste plek behaal, terwyl die seniors ’n welverdiende derde plek ingeneem het.
Hoërskool Nelspruit se juniors het onlangs uitstekend by die gewilde Menlo Mixit Tennistoernooi by Sun City gevaar, waar die span met goue medaljes weggestap het.
Die toernooi het vanaf 1 tot 4 Maart plaasgevind en is deur Hoërskool Menlopark aangebied. Die kompetisie was straf, maar die Nellies het weer eens gewys hulle skrik vir niks of niemand nie. NHS het aan beide die junior- en seniorafdelings deelgeneem, en al het die juniors ’n bietjie beter as die seniors gevaar, het beide spanne hul skool trots gemaak.
In die seniorafdeling het NHS ’n baie indrukwekkende derde plek verower met twee wenne uit hul vier wedstryde.
Hul uitslae is soos volg:
- Wen teen Menlo 2
- Verloor teen Potchefstroom Gimnasium
- Wen teen Midstream College
- Verloor teen Menlo 1.
Die juniors het uitstekend gevaar en het hul skool met trots verteenwoordig. Hulle uitslae is soos volg:
- Wen teen Midstream College
- Wen teen Potchefstroom Gimnasium
- Wen teen Menlo 1.
Die hoogtepunt van die juniors se deelname was die spanningsvolle eindstryd teen Menlo 1. Dit was ’n baie taai stryd, maar die juniors het vasgebyt en die oorwinning met ’n telling van 14-11 beklink.
Die Menlo Mixit Tennistoernooi was ’n onvergeetlike ervaring vir NHS se tennisspanne, en hulle sien reeds uit na die NWU Tennistoernooi wat vanaf 7 tot 10 April in Pretoria plaasvind.
