NHS-atlete sorg vir blink vertonings op Secunda
Hoërskool Nelspruit se atlete het met 14 medaljes van Secunda teruggekeer huis toe van waar hulle aan die 2024 Mpumalanga Atletiekkampioenskappe deelgeneem het. Ses van die atlete is na dese Mpumalanga-kampioene vir 2024.
Hoërskool Nelspruit se groepie atletiekbittereinders wat die geleentheid gegun is om hulle seisoen tot by die provinsiale kampioenskappe te Secunda te voer, het Saterdag 9 Maart ’n goeie dag in die uitdagende Hoëveld-hitte beleef.
Daar is in die ouderdomsgroepe 15, 17 en 19 meegeding. Die o. 14-atleet Chenade Botma is as die vinnigste naelloper (dogters o. 15) in die provinsie gekroon. Chenade wen beide die 100 m (12,43 sek. – 863 ASA-punte) en die 200 m – 26,14 sek. (850), en spog sodoende met twee goue medaljes.
Hoërskool Nelspruit se ander Mpumalanga-kampioene is:
• Zané Nel (dogters o. 17): skyfwerp – 35,68 m (831)
• Zoë Cilliers (dogters o. 17): 200 m – 25,46 sek. (870)
• Sheba Sithole (dogters o. 17): 800 m – 2:23;93 (790)
• Elizma de Villiers (dogters o. 17): hoogspring – 1,56 m
• Leney Maree (dogters o. 15): 3 000 m – 10:59;86 (847).
Die oes van silwer medaljes lyk so:
• Zoë Cilliers (dogters o. 17): 100 m – 12,08 sek. (814)
• Sheba Sithole (dogters o. 17): 1 500 m – 4:59;95
• Leney Maree (dogters o. 15): 1 500 m – 5:08;80
• Dané van der Walt (dogters o. 15): gewigstoot – 11,84 m (837)
• Anele Mkhonto (seuns o. 17): 800 m – 1:58;59
• David Botha (seuns o. 19): spiesgooi – 57,05 m (755).
Brons is deur Jacques Bouwer (seuns o. 17) in spiesgooi – 48,77 m, en Elizmarie Strydom (dogters o. 19) in skyfwerp – 27,22 m verower.
Daar moet beslis ook melding van die oudleerling Ashley Erasmus gemaak word. Sy wen die gewigstoot (dogters o. 19) met ’n puik afstand van 17,31 m. Dit plaas haar in die tweede posisie op die nasionale ranglys vir senior dames.
Net die wêreldkampioen Miné de Klerk, wat tans in die VSA studeer, het vanjaar met ’n 17,79 m verder gestoot. Erasmus wen ook die skyfwerp (51,54 m) en is stewig op pad om by vanjaar se nasionale kampioenskappe nog medaljes by haar reeds indrukwekkende versameling te voeg.
