Welbekende Laeveldse skrywer en historikus Hans Bornman oorlede
Die Laeveldse skrywer, kunstenaar en geskiedskrywer, Hans Bornman, is Woensdagoggend, 27 Maart, oorlede.
Die bekende Laevelder, geskiedskrywer, oudkoerantman, kunstenaar en uitgewer Hans Bornman is vanoggend vroeg oorlede.
Bornman was in sy vroeë 90’s en steeds besig met navorsing en geskiedskrywing. Hy was in die finale proses van sy laaste boek oor die geskiedenis en mense van Hazyview. Die boek sou op Saterdag 13 April met ’n boekedag wat Mpumalanga Eerfenis by die Casterbridge Lifestyle Centre buite Witrivier gereël het, bekendgestel word. Met die geleentheid sal daar nou tyd vir ’n huldigingsplegtigheid geruim word.
Bornman se gesondheid het die afgelope ruk erg verswak. Hy is op Middelburg deur ’n vriendin versorg. Hy was ten tye van sy dood opgeneem, en het gister glo ’n verbetering getoon.
Sy laaste groot werk was ’n verwerking van sy bekende boek Pioneers of the Lowveld onder die nuwe titel Historical Lowveld Across the Ages enkele jare gelede. Nie minder as twee bekendstellings moes gereël word om dié groot belangstelling te kon akkommodeer.
Bornman was ook ’n ontvanger van die Mpumalanga Erfenis se jaarlikse toekenning vir sy bydrae tot die geskiedskrywing van Mpumalanga – en in sy geval veral oor die Laeveld.
Hier is ’n lys van sy werk en publikasies soos dit voor in sy boek Historical Lowveld verskyn het:
Bornman is in die Laeveld, Mpumalanga, gebore. Hy was die skrywer van Pioneers of the Lowveld (1995), die kunstenaar en medeskywer van Aloes of the South African Veld (1971), hy het bygedra tot Transvaalse Laeveld, geredigeer deur Chris Barnard (1975), hy was die skywer en redakteur van die boek Nelspruit 75 in ’80 (1979), asook vele ander.
