Local news

Vier Wêreldboekedag saam in die Laeveld

Die dag is reeds in 1995 deur Unesco ingestel. Laeveld-lesers kan ook vanjaar na die ATKV-Kuns- en Boekeoase tydens Innibos uitsien.

Vandag, 23 April, word Wêreldboekedag gevier.

Die dag is in 1995 deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) ingestel. Dié organisasie het besluit dat skrywers en letterkunde wêreldwyd vereer moet word. Hierdie dag is gestig om elkeen aan te moedig om meer te lees en só die magiese wêreld wat boeke bied te ontdek.

Christien Neser, spraakterapeut en bekende skrywer, sê daar is ’n handvol redes waarom ’n mens moet lees.
“Kyk na jou hand: daarin lê die vyf redes waarom jy behoort te lees. Jy lees vir intelligensie, vir informasie, vir interessantheid, vir inspirasie en vir insig,” sê sy.
• Die duim staan vir intelligensie. Lees is die bepaler van akademiese en beroepsukses.
• Die wysvinger staan vir informasie. Deur te lees kan jy op hoogte van veranderinge bly.
• Die middelvinger is die interessante vinger. As jy lees, word jy deel van interessante avonture, uitvindings en nuusgebeure.
• Die ringvinger is die swakste vinger, maar herinner jou aan die sterkste idees. Lees verskaf inspirasie en nuwe idees.
• Die pinkie is die insigvinger. Lees bied jou insig in die denke en idees van ander mense.

Skrywers en boeke oor die Laeveld:
• Die Melkweg en die Miskruier – Jeannette Ferreira
• Die veldwagter stap saam: Die allesomvattende veldgids tot die Laeveld – Megan Ernett en Sean Pattrick
• Die Transvaalse Laeveld: Kamee van ’n kontrei – Chris Barnard
• Duiwelsroos – Leon van Nierop
• Stil vloei die Komati en Wanneer skaduwees kantel – Elize Parker
• Hans Bornman, skrywer en historikus, is die outeur van vele boeke, onder andere Baanbrekers van die LaeveldOn a Lowveld FarmHistorical Lowveld, Kaapschehoop: Village in the Mist, White River Photo AlbumPictorial History of BarbertonGolden Memories of Barberton en The True Story of Cockney Liz
• Those Miraculous Sunflower Seeds – Katja Kowalec
• Jock of the Bushveld – Sir Percy FitzPatrick.

 

Lees ook: Local historians paid tributes at book fair in White River

Innibos bied ’n oase vir boeke en kuns

Lesers en boekliefhebbers kan uitsien na die ATKV-Kuns- en Boekeoase wat vanjaar opnuut die toevlugsoord vir lesers en liefhebbers van die skone kunste gaan wees.

Verskeie boekgesprekke gaan daagliks by die ATKV-Kuns- en Boekeoase by Laerskool Nelspruit se kultuursentrum gehou word. Etienne van Heerder gaan onder meer van die magiese gegewens in sy boek Gebeente vertel, Leon van Nierop sal gesels oor sy pennevrug Droomjagter en Amore Bekker sal as samesteller meer oor Ek het ’n engel gesien, wat bestaan uit 72 stories oor Suid-Afrikaners se ervaringe met hierdie hemelse wesens, verklap.

Die debuutboek van Riaan Grobler, Geheime op Philadelphia, sal ook tydens die fees bekendgestel word. Grobler is ook bekend as sanger en radiopersoonlikheid.

Dr. Mathews Phosa sal tydens ’n boekgesprek meer van sy derde Afrikaanse digbundel waarmee hy besig is vertel, asook twee geskiedenisboeke-in-wording. Mathews is ’n stigterslid van Innibos Kunstefees en het ’n boeiende verbintenis met die Afrikaanse kultuurlandskap.

Danie Marais stel sy nuwe digbundel, Ek en jy bestaan nie, bekend, en Danie du Toit van Spoegwolf-faam gaan met hom gesels. Hierdie bundel handel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly.

Die baie gewilde ATKV-Boeke-crawl sal om 15:00 en 17:00 op Donderdag, 27 Junie, plaasvind. Die Buscor-busse sal van die NG Kerk Westergloed se parkeerterrein na Kaapsehoop vertrek. Crawl-haltes in Kaapsehoop is onderskeidelik die Bohemian Groove Cafè, die klein kapel by Silvermist Gastehuis en by Nagkantoor Kuierkroeg. Ingesluit by die prys van R350 is ’n regmakertjie of drie, ligte eetgoed en meer as genoeg pitkos vir die siel in die program van sowat 260 minute.

Refentse en Johny Klein sal die program afskop met woord en lied oor alles wat met die liefde te doen het. Daarna sal Etienne van Heerden uit sy boek Gebeente in die kapel voorlees, met atmosfeerryke musiek deur die ULTRACoustic Duo, bestaande uit musikante Wilken Calitz en Dirkie van Staden. Koos Kombuis en Jana Cilliers sal die dag met voorlesings uit Koos se geskrifte, voorgelees deur Jana, afsluit. Koos sal ook sing.

 
Back to top button